
meer oor
VROU SOOS EK
Vrou soos ek is deur Melanie Stipp in 2016 gestig.
Ek het besluit om 'n platform te skep as 'n toevlugsoord - 'n veilige hawe vir vroue soos ek - wie 'n balans in die lewe probeer handhaaf tussen verhoudings, loopbane, ma wees, vrou wees, en alles tussenin.
Ek het nog altyd 'n passie gehad om ander te inspireer.
'n Brandende begeerte het in my gewoed om vroue te bemagtig om vrouwees te vier - selfs al voel dit soms nie altyd so mooi nie. Ek en 'n vriendin het toe begin skryf hieroor. Min het ek geweet dat Abba groter planne vir hierdie "blog" gehad het, en dat Hy binnekort saam met my sou reis om dit te ontwikkel in 'n vrouebediening - om Sy bruid voor te berei en Sy Koninkryk voort te bou.
Vrou soos ek se visie is dat ons daarna streef om die waarheid in liefde te deel sodat elke vrou die beste weergawe van haarself kan wees soos יהוה (Abba) haar geskape het – nog voor die grondlegging van die aarde.
Simboliek en betekenis van ons logo

Ek wou 'n unieke logo ontwerp wat vroue in die algemeen verteenwoordig, maar ook iets persoonlik uitbeeld.
Dit was 'n foto van my wat hulle gebruik het om 'n lynkuns-logo te ontwerp, maar tog is daar soveel meer simboliek en betekenis aan hierdie logo.
Ek het besluit om die oë uit te laat met 'n baie spesifieke doel.
Oë is 'n belangrike deel van ons.
In Matteus 6:22 lees ons: "Die lamp van die liggaam is die oog. As jou oog gesond is, sal jou hele liggaam verlig wees."
Waarna kyk ons? Wat laat ons toe om deur ons oë na ons hart in te gaan? Om op ware toewyding aan Abba te fokus en 'n afgesonderde lewe te hê, is soos om helder, gesonde oë te hê: dit laat die lig van Abba se geregtigheid in 'n persoon se hart in. Wanneer ons leer om na onsself te kyk deur Abba se oë, sal dit ons lewe verander. Wanneer ons leer om deur Sy oë na ander te kyk, sal dit die wêreld verander.
Die sirkel simboliseer die krag van vroue wat saamstaan, Abba se beskerming, en eenheid. Daar is 'n baie spesiale eenheid onder mense wanneer ons יהוה se Woord en Sy vasgestelde tye gehoorsaam.
Wat Ons Glo
Vrou soos ek glo voluit in die hele Bybel, van Genesis tot Maleagi en Mattheus reg deur tot Openbaring.
Ons glo dat elke woord in die Bybel waar is. Ons glo in יהוה (God), Yeshua (Jesus) en die Ruach Hakodesh (Heilige Gees).
Ons glo ook dat ons afgesonder en heilig moet lewe.
“want julle is ’n afgesonderde volk tot יהוה, julle God en יהוה het julle gekies om ’n volk as Sy eie besitting te wees uit al die volke wat op die aarde is." (Deuteronomium 14:2)
'Aangesien daar geskrywe is: "Wees heilig, want Ek is heilig"' (1 Petrus 1:16).
Ons onderhou die Sabbat soos Abba ons beveel het.
"Op die sesde dag is God se werk, wat Hy gemaak het, voltooi en op die sewende dag het Hy gerus van alle werk wat Hy gemaak het en God het die sewende dag geseën en dit afgesonder omdat Hy daarop gerus het van al Sy werk;..."
(Gen. 2:2-3). Die Sabbat is 'n skeppingsverordening, daarom is dit universeel en ewigdurend.
Die Sabbat is vasgelê in die Gebooie.
Exodus 20:10 sê: "maar die sewende dag is die sabbat van die Here jou God."
Die Sabbat word in die Nuwe Testament deur Jesus/Yeshua herbevestig. In Markus 2:27-28 erken Yeshua dat die Sabbat vir die mens gemaak is en dat Hy Here is van die Sabbat.
Vrou soos ek vier nie wêreldse feeste soos Nuwejaar, Valentynsdag, Paasfees, Moedersdag, Vadersdag, Halloween of Kersfees nie. Ons glo eerder in die Feesdae van YHVH, Sy aangewese tye (Moedim):
Levitikus 23:2 sê: "Spreek tot die kinders van Israel en sê vir hulle: 'Hierdie is die feesdae van die Here, wat julle as heilige byeenkomste moet uitroep; dit is my feesdae.'"
Exodus 12:14 sê: "Hierdie dag moet vir julle 'n gedenkdag wees, en julle moet dit as 'n fees aan die Here vier; deur julle geslagte heen moet julle dit as 'n insetting vir ewig hou."
Moedim מועדים in Hebreeus beteken "feeste" en beteken eintlik "vasgestelde tye."
Hierdie word nooit as "Joodse feesdae" beskryf nie, maar as die "Vasgestelde Tye" van Abba (Levitikus 23:2). Dit is afgesonderde tye waarin Jesus/Yeshua uitgebeeld word. Die hele Meesterplan van Abba YHVH draai om Sy Gesalfde Een, die Messias. Yeshua se lewe, bediening, offerdood, opstanding en rol as Koning van die eeu wat kom is die fokuspunt van YHVH se grootse doel op aarde. Hierdie is:
-
Pasga (Pesach): Messias gekruisig
-
Ongesuurde Brode (Chag HaMatzot): Vryheid van sonde
-
Eerstelinge (First Fruits) (Yom HaBikkurim): Messias opgestaan uit die dood
-
Pinkster (Shavuot): Heilige Gees uitgestort
-
Feest van Trompette (Yom Teruah): Messias keer terug
-
Versoeningsdag (Yom Kippur): Oordeel deur die Messias
-
Tabernakels (Sukkot): Messias woon onder ons
"Laat ons dan feesvier, nie met die ou suurdeeg of met die suurdeeg van onsedelikheid en ander sonde nie, maar met die ongesuurde brood van reinheid en waarheid." (1 Korintiërs 5:8).
Om die Torah te onderhou het niks met redding te doen nie - dit gaan oor liefde en gehoorsaamheid aan YHVH (God).
Meer oor die Stigter:
Ek het vanaf die ouderdom van vyf in 'n Kinderhuis grootgeword. Alhoewel ek vir 'n lang ruk gesukkel het om hierdie gedeelte van my lewe te verstaan, en ook gesukkel het met my identiteit in Abba, kan ek vandag getuig dat ons baie keer toegelaat word om deur sekere dinge te gaan, sodat Abba ons kan bemagtig om eendag met autoriteit ander te kan help. My story, His glory.
Ek en my man is in 2011 getroud en het vandag vyf pragtige kinders saam - vier seuns en een dogter. Die jongste is 'n tweeling.
Mamma wees is deel van my roeping. Dit kan soms oorweldigend raak, maar ek is bitter lief vir my gesin.
Hierdie klink dalk soos 'n cliché, maar ek probeer my bes om die meeste van elke oomblik te maak. Tyd is die beste geskenk wat ons aan ander kan gee. Geen geld in die wêreld kan dit koop nie.
Ek het 'n brandende begeerte om 'n verskil in ander se lewens te maak - al is dit net met 'n glimlag, 'n woord van bemoediging, of gebed.
Ek glo ook dat my roeping is om ander vroue te bedien met die Woord en die waarheid in liefde te deel - om te help om die bruid van Yeshua in gereedheid te bring.
Abba verdien al die eer en erkenning. Hierdie is Sy bedienning. Ek is net die instrument in Sy hande.

Melanie Stipp
Ons Span



Lydia
Maree
Admin en Gebed
Zelmarie Putzier
Admin en Gebed


