top of page
Search

As daar net ’n handleiding was…

  • Writer: Maryna Eksteen
    Maryna Eksteen
  • May 29
  • 2 min read

Het jy al ooit net gesit — dalk met jou kop in jou hande en jou hart in jou skoene — en gedink: “As daar net ’n handleiding was vir hierdie lewe…”

 

’n Boek wat sê hoe om ’n vrou te wees in ’n wêreld wat aanhou verander. Hoe om ’n goeie ma te wees sonder om jouself te verloor. Hoe om ’n vrou van geloof te wees wanneer twyfel jou snags wakker hou. Hoe om te gee sonder om leeg te raak. Hoe om te bly staan wanneer jy wil val. 

 

Wat as daar iemand was wat nie net vir jou sê wat om te doen nie — maar jou wys hoe om dit te doen? Wat as daar woorde was vol wysheid, rigting, vrede, en waarheid?

 

Goeie nuus! Daar is. Die handleiding bestaan. Dis die Woord van God. Dis nie net ’n ou boek met stories van lank terug nie. Dis lewendig. Dis waar. En dis geskryf met jou in gedagte.

 

Wanneer jy moedeloos is, wys dit jou hoe om moed te vind. Wanneer jy moeg is, gee dit jou rus. Wanneer jy nie weet wat om te doen nie, wys dit vir jou na Wie toe om na toe te gaan. Wanneer jy voel jy’t alles verloor, herinner dit jou aan die Een wat alles gewen het.

 

In Spreuke wys God vir ons wat wysheid is. In Psalms leer Hy ons hoe om eerlik te bid — selfs met gebroke woorde. In Rut wys Hy dat getrouheid nie ongesiens bly nie. In Maria se storie leer ons hoe om nederig ja te sê vir ’n plan wat groter is as ons. In Ester sien ons dat God selfs ons moed en ons vrees kan gebruik om ander te red. En dan… is daar die drie enige God!  Van Genesis tot Openbaring wys elke bladsy na Hom toe. Hy is nie net die hoofkarakter van die handleiding nie — Hy is die handleiding. Hy is die Weg. Hy is die Waarheid. Hy is die Lewe.

 

So volgende keer as jy voel jy weet nie hoe nie — hoe om op te voed, hoe om sterk te wees, hoe om weer te vergewe, hoe om reg op te tree, hoe om jouself te wees in ’n wêreld vol maskers — dan wil ek jou uitnooi: Maak die handleiding oop. 

 

Nie net op ’n Sondag nie. Nie net wanneer jy ten einde raad is nie. Elke dag. Want jy’t nie net ’n handleiding nodig nie… Jy’t die Skrywer daarvan nodig. Hy wag vir jou. Sy Woord wag om gelees te word. 

 
 
 

Comments


Commenting on this post isn't available anymore. Contact the site owner for more info.
bottom of page