Wanneer jou takke kaal is
- Maryna Eksteen

- Apr 23
- 3 min read
Herfs is vir my ’n baie mooi seisoen. Dit voel bietjie na chaos, want waar daar eens digte groen was, sien jy nou takke wat stadig kaal word—oop, bloot, eerlik. Ek dink dit is juis die oop, bloot en eerlik wat hierdie seisoen vir my so mooi maak.
Ons mense is maar niks anders as bome nie. Van ons is groot bome, ander klein bome; van ons het meer blare as ander want ons is ekstroverte, en ander het minder blare want ons is introverte. Het jy al ooit in die winter verby ’n boom gery en gesien dat daar nog hier en daar ’n verlore blaartjie hang? Ons mense is ook so …
Ons klou vas aan dinge. Aan seisoene wat eintlik al verby is. Aan gewoontes, mense, drome, selfs seer. Dit voel veilig om alles vas te hou, want wat as die laat gaan ons leeg laat? Wat as daar niks oorbly nie?
’n Boom verloor nie sy blare omdat dit swak is nie. Dit doen dit omdat dit wys is. Omdat dit weet wat kom. Winter is op pad—’n seisoen van rus, stilte en voorbereiding. As die boom sy blare sou hou, sou dit hom net uitput. Die laat gaan is nie verlies nie, dit is oorlewing. Dit is voorbereiding vir nuwe lewe.
En miskien is dit presies waar jy nou is.
Miskien is God besig om sekere “blare” in jou lewe los te maak. Dinge wat eens mooi was, maar nou nie meer plek op jou takke het nie. Verhoudings wat jou uitput. Gewoontes wat jou vasbind. Drome wat nie by jou roeping pas nie.
En dit maak seer.
Want om te laat gaan voel nie soos groei nie, dit voel soos verlies. Asof jou hele wêreld uitmekaar uit val. Die Woord herinner ons in Prediker 3:1: "Daar is ’n tyd vir alles, ’n tyd vir elke saak onder die hemel."
Selfs ’n tyd om te laat gaan.
Ons sien nie altyd die groter prentjie nie. Ons voel net die kaal takke, die wind wat deur ons lewe waai, die stilte waar daar eens oorvloed was. Maar God werk in seisoene. En net soos die boom nie vir altyd kaal bly nie, so sal jy ook nie.
Dit is in die stil seisoene waar wortels dieper groei. Waar ons afhanklikheid van God sterker word. Waar Hy ons voorberei vir iets nuuts—iets vars, iets lewend, mits ons die tyd uitkoop en by Sy voete gaan sit. As jy God nie gaan ken in jou herfseisoen deur gebed nie, gaan jou winterseisoen bitter koud wees. Hy sal jou nooit los nie, maar geen seisoen kan sonder die Here aangepak word nie. Dit is soos om ’n nuwe boom in die somer te plant en dit nie water te gee nie.
Jesaja 43:19 sê: "Kyk, Ek gaan iets nuuts doen; dit staan op die punt om te gebeur—kan julle dit nie sien nie?"
Maar nuwe dinge het plek nodig. Nuwe blare kan nie groei as die oues nog vasklou nie.
Dalk is hierdie herfs vir jou ’n uitnodiging. Nie om vas te klou uit vrees nie, maar om doelbewus los te laat in geloof. Om te vertrou dat God weet wat Hy doen, selfs wanneer jy net kaal takke sien.
Want Hy is die God van seisoene. Die God van herfs… én van lente.
Wat jy nou loslaat in gehoorsaamheid, sal Hy op Sy tyd vervang met iets mooier, sterker en meer lewend as ooit tevore. So as die blare in jou lewe begin val—moenie paniekerig raak nie, raak eerder stil en weet Hy is God.
Miskien… net miskien… is dit die begin van iets nuuts.




Comments