top of page
Search

​Heiligmaking is ‘n proses

  • Writer: Maryna Eksteen
    Maryna Eksteen
  • Mar 12
  • 3 min read

Daar is iets ongelooflik mooi wat gebeur wanneer ons onsself in die Woord van God begin vestig. Jou denkwyse verander. Jy word nie oornag 'n goeie Christen nie.


Hoeveel keer het jy al die Dominnee of Pastoor in die kerk hoor praat oor Heiligmaking? Paulus skryf in 1 Tessalonisense 4:3: “Want dit is die wil van God: julle heiligmaking…” 2 Korintiërs 3:18 sê: “En ons almal… word van gedaante verander na dieselfde beeld, van heerlikheid tot heerlikheid, as deur die Here wat die Gees is.”


Ek hou van daardie woorde: van heerlikheid tot heerlikheid. Dis ’n proses. Dis groei. Dis baksteen vir baksteen.


Heiligmaking klink amper soos ‘n huistaak wat jy moet verrig. Maar dit is nie. Wanneer ek sê, “daar is iets ongelooflik mooi wat gebeur wanneer ons onsself in die Woord van God begin vestig,” dan bedoel ek die volgende: Jy begin dink voor jy praat, jy begin besef dat sekere gesprekke nie goed is vir jou gees nie, jy dink twee keer voor jy op die vrou skreeu wat sonder ‘n flikkerlig net voor jou indraai, jy praat mooier, sagter en jy hanteer moeilike situasies beter.


Hebreërs 12:14 waarsku sag maar duidelik: “Jaag die vrede na met almal, en die heiligmaking, waarsonder niemand die Here sal sien nie.”


Heiligmaking beteken nie dat jy nou wonder bo wonder nie meer gaan sondig nie. Dit beteken net dat jy verantwoordelikheid gaan vat wanneer jy sondig of dat jy volgende keer twee keer sal dink voor jy doen.


Die proses lyk dalk vir almal van ons anders. Ek wil nie meer in gesprekke sit waar mense skinder nie, en wanneer ek skinder (want ek is net mens) kom wys die Heilige Gees vir my dat ek nie in God se wil optree nie. My ore brand wanneer mense vloek. Skielik is dit asof ek ‘n vloekwoord net soveel duideliker hoor as voorheen. Ek probeer om nie meer so baie met mense om my te baklei nie. Ek is mos maar baie blaf en min byt. As ek tog net my stempeltjie kan neerdruk is ek gelukkig. Ek probeer werklik om nie meer daardie mens te wees nie. Dit is nie altyd lekker of maklik nie maar dit is altyd moontlik. Jy weet mos, met God is alles moontlik.


Ek sê nie word ‘n mens wat sit en almal oordeel nie ... “Jy rook, jy gaan hel toe,” of “Jy het gevloek en nou gaan ek jou ignoreer nie.” Jy kan afstand doen van hierdie dinge en steeds “heiligmaking” toepas sonder om te oordeel. Jesus het afterall tussen die sondaars gesit en Hy doen nogsteeds. Dit is juis omdat Hy tussen sondaars sit dat jy die voorreg het om Hom te leer ken in jou heiligmakingproses.


Dit is alles is so mooi, soms ongemaklik en nooit lekker nie, maar mooi. Hoe meer Hy ons verander, hoe meer begin ons Sy hart weerspieël – in ons woorde, ons reaksies, ons keuses en in ons denke. Doen jouself ‘n guns – want ek baat nie daarby nie – maak jou Bybel oop en begin net lees, praat met God en moenie toelaat dat die duiwel die “ja, maar my gebede gaan teen die dak vas,” of “ja, maar ek bid en God praat nie terug,” leuen in jou ore fluister nie. 


Dit vat ongelukkig bietjie werk. God is daar, Hy hoor jou en ek is seker Hy praat met jou, maar jy hoor Hom dalk nie want jy weet nie hoe om te luister nie. Begin klein, maak jou Bybel app oop en lees die vers van die dag, môre lees jy die vers van die dag en sê vir die Here dankie vir ‘n nuwe dag. In die begin is dit vreemd, jy bid vir 30 sekondes en dan weet jy nie wat om te sê nie maar voor jy jou kan kry sit jy 10 minute en praat met God. Jy pak af, jy sê hoe jy voel, jy deel jou hart en stadig maar seker raak jy al hoe nader aan die Here.


Onthou net, ons sal nooit heilig wees nie...dit is Jesus se werk maar ons het nodig om heiligmaking toe te pas om ‘n persoonlike verhouding met Jesus te hê.

 
 
 

Comments


Commenting on this post isn't available anymore. Contact the site owner for more info.
bottom of page