God is onkruiddoder
- Maryna Eksteen

- Mar 5
- 2 min read
Ek het so rukkie terug op pad werk toe in die passasiersitplek gesit ek kyk na al die blommetjies langs die pad. Ek was ontsteld want ek en my man het baklei. Terwyl ek my worship musiek kliphard speel kyk ek aandagtig na die blommetjies.
Pers, oranje, pienk en hier en daar die mooiste, fynste wit blommetjies. Al wat ek kan dink is, "Here, hoe kan onkruid so mooi wees?
Onkruid is tog iets wat steel. Dit steel water. Dit steel sonlig. Dit steel ruimte. En uiteindelik steel dit by die plante wat jy doelbewus geplant het. Het jy al ooit hieraan gedink? Nie alles wat mooi lyk, is goed in jou tuin nie.
Jaloesie, dit is soos ń Oleander. Hierdie blommetjie is klein, fyn en pienk. Die mooiste pienk. Maar hy is giftig vir mense en honde. As jy vir hom plek in jou tuin gee sal hy oorneem. Bitterheid, dit is soos ń "self-heal"...ironies nè. Hierdie blommetjie is fyn en amper ń skakering van pienk en pers. Sy wortels infiltreer die grond en as jy nie al die wortels uithaal nie, kom hy terug. Hy en onvergewensgesindheid is baie dieselfde. Die wild violet is net soos die "self-heal", 'n mooi blommetjie wat baie plek in jou tuin vat. Hy is by baie kwekerye ook te koop en sonder dat jy dit weet plant jy iets in jou tuin wat al jou ander plante gaan onderdruk.
Onkruid is nie noodwendig net hoe ons voel, dink en optree nie. Soms is dit mense in ons lewe. Sonneblomme, hulle is so mooi maar so selfsugtig. Een van my gunsteling blomme. Hulle is ook ten duurste te koop by Woolworths of Checkers. Soms koop ons hulle vir die tafel wanneer ons gaste kom kuier of ons verkyk onsself aan hulle geel blaatjies wanneer hulle in die tuin staan. Hy is nie noodwendig net 'n onkruid nie, hy het seker maar sy goeie punte ook maar...hy sal al die son vir homself vat. Hy sal nie eers 'n bietjie son vir die ander plante los om te groei nie.
In Markus 4 vertel Jesus van saad wat tussen die dorings val – en hoe die dorings (of onkruid) dit verstik. Hoe die sorge van die wêreld en die begeertes na ander dinge die Woord onvrugbaar maak. Hoe raak mens ontslae van die onkruid?
Ek hoor nie meer God se stem nie, want al die onkruid druk hom uit my tuin uit. Dit is eintlik baie eenvoudig. God is die onkruiddoder. Hy genees, maak rein, maak plek vir groei en hou ons grond vrugbaar deur die Heilige Gees. Soms het ons net nodig om die tuin skoon te maak sodat die plante wat moet groei, dit sonder moeite kan doen.
Bid, lees jou Bybel, worship, praat met God deur die dag, loop weg wanneer mense skinder (lees Spreuke 11:13, Efesiërs 4:29, en my gunsteling een: 1 Korintiërs 15:33), moenie die taxi vloek wat voor jou inry nie, stap weg van konflik af, maak tyd vir God. Jy kry die punt.
Hoe lyk jou tuin?




Comments