top of page
Search

Wanneer my gebede soos WhatsApp voice notes voel

  • Writer: Maryna Eksteen
    Maryna Eksteen
  • Oct 2
  • 3 min read

Ek is moeg. Nie net “ek het laat gaan slaap gisteraand”-moeg nie, maar sielsmoeg. Dis byna die einde van die jaar en alles voel swaar. My werk sluk my in, my huwelik voel soos ’n klomp los drade wat nie meer ’n kleed vorm nie en my kind skree in die huis soos ’n besetene. Ek dink partykeer ek wil net verdwyn - net gaan lê op ’n verlate eiland en alles vergeet.


Maar nog voor ek kan droom van my verlate eiland, hoor ek hoe my foon lui. Nog ’n rekening. Ek is seker nou weer oorhandig omdat ek ‘n rekening nie betaal het nie. Jy weet, die een wat die bloedbank nooit gestuur het nie. Hulle oorhandig mens mos net. En ek dink: Ek het nie meer lus vir kerk of Bybel of selfs bid nie. Ek bid deesdae net soos iemand wat ’n WhatsApp voice note stuur as dit regtig dringend is: “Hallo Here, Maryna hier. Ek weet ek het Desember laas met U gepraat toe ek aansoek gedoen het vir ‘n nuwe werk. Kan U gou help om my huwelik te red? Dankie. Amen.”


Dis hoe dit voel. Kort, haastige, desperate gebede. Net in nood. Maar toe lees ek weer Filippense 4:6: “Moet oor niks besorg wees nie, maar maak in alles julle begeertes deur gebed en smeking en met danksegging aan God bekend.” In alles. Nie net wanneer my huwelik in ‘n egskeiding eindig nie. Nie net wanneer die mediese fonds my vir die wolwe los nie. Nie net wanneer ek voel ek sink nie. Alles.


En toe vang dit my: Gebed is nie bedoel om my “In case of emergency - break glass” - opsie te wees nie. Dis bedoel om my asem te wees. My daaglikse kos. Nie ’n pleister vir krisisse nie, maar ’n gesprek met die Vader wat weet ek is bietjie van ‘n nut case van tyd tot tyd en my steeds liefhet.


1 Tessalonisense 5:17 sê eenvoudig: “Bid sonder ophou.” Dis nie ’n las nie, dis ’n uitnodiging. Bid in my moegheid. Bid as ek my kind se deur wil toeslaan. Bid as ek voel ek het niks om te sê nie, want selfs my laste en trane is vir Hom verstaanbaar (Romeine 8:26).


Ek dink partykeer dat ek gebed te ingewikkeld gemaak het - soos iets wat perfek moet wees, ’n netjiese toespraak. Maar eintlik is gebed net eerlikheid. Dis om vir God te sê: “Ek’s moeg. Ek het nie lus vir kerk nie. Ek voel soos om te hardloop. Help my.” En ek besef, dit ís eintlik kerk. Kerk is nie net die ry stoele en die orrel of band wat speel nie - dis die wete dat selfs in my slaapkamer, selfs tussen vuil wasgoed en ’n skreeuende kind, ek nog steeds die Here kan aanroep. Hy wag, nie vir my perfekte gebed van 60 minute lank nie, maar vir my hart.


So dalk moet ek ophou leef asof gebed ’n WhatsApp voice note is. Miskien moet ek begin leef asof dit ’n lewenslyn is.


Want Jesus self sê in Mattheus 11:28: “Kom na My toe, almal wat vermoeid en belas is,en Ek sal julle rus gee.” As jy jouself bevind waar ek is, wees verseker, die Here is met jou. Roep Sy naam, Hy sal nie jou hand los nie. Maar druk deur liewe vrou soos ek. Bid wanneer jy nie wil nie, lees jou Bybel en praat met die Here. Ek praat partykeer met Hom as ek in die badkamer besig is of wanneer ek werk toe ry. Hy wil jou hart hoor.


Ek dink dis tyd dat ons ophou van Hom af hardloop en weer na Hom toe kom. Nie net in my nood nie, maar in ons elke dag. Ag, al sê ons net “dankie vir die nuwe dag, Here”.


 
 
 

Comments


Commenting on this post isn't available anymore. Contact the site owner for more info.
bottom of page