top of page
Search

Die krag van stilword by God

  • Writer: Maryna Eksteen
    Maryna Eksteen
  • Jan 16
  • 3 min read

In die gejaag van die lewe, waar ons kalender vol is en ons gedagtes nooit ophou draai nie, is daar een uitnodiging wat ons dikwels misloop: die uitnodiging om stil te word by God. Om stil te word is nie bloot om die geraas van die wêreld af te skakel nie – dit is om ons siel te laat rus in die teenwoordigheid van die Een wat alles onder beheer het. Dit is om weer diep asem te haal en die stem van ons Skepper te hoor fluister: “Wees stil en weet dat Ek God is.” – Psalm 46:11.


Ons leef in ’n wêreld wat konstant verander, waar stilte soms as onproduktief gesien word. Maar in daardie stilte lê die krag van hernude perspektief en die diepte van God se teenwoordigheid. Wanneer ons stil word, skakel ons nie net die geraas van die wêreld uit nie, maar ons skep ook ruimte om Sy stem te hoor – nie in donderstorms of aardbewings nie, maar in die sagte fluistering wat ons siel vernuwe.


Jesus het self die waarde van stilte verstaan. In Lukas 5:16 lees ons: “Maar Hy het dikwels na eensame plekke gegaan om daar te bid.” Dít was Jesus, die Seun van God, wat gereeld stil geword het om by Sy Vader leiding te soek. Hoeveel te meer het ons nie daardie tyd van stilte nodig om weer opnuut met God te verbind nie?


Om stil te word beteken om ons eie agendas opsy te skuif en ons hart oop te maak vir Sy stem. Dit is in hierdie heilige stilte dat ons Sy liefde en vrede ervaar op maniere wat die wêreld nie kan bied nie. So dikwels probeer ons ons eie pad beplan, maar in stilwording ontdek ons die waarheid van Spreuke 3:5-6: “Vertrou op die Here met jou hele hart en steun nie op jou eie insigte nie. Ken Hom in al jou weë, dan sal Hy jou paaie gelykmaak.”


Stilword by God is nie altyd maklik nie. Dit vra van ons om tyd opsy te sit, om selfdissipline te hê, en soms om ongemaklik te wees in ons eie gedagtes. Maar dit is presies in hierdie ongemak waar God werk. Hy genees ons gebroke dele, vul ons leegheid met Sy teenwoordigheid, en wys ons dat ons waarde nie in wat ons doen lê nie, maar in wie ons is in Hom.


Daar is iets ongelooflik genesend daaraan om stil te raak en bloot by Sy voete te sit. Dit is daar waar ons vrese verdwyn, waar ons bekommernisse vervang word met Sy vrede wat alle verstand te bowe gaan (Filippense 4:7). Dit is daar waar ons onsself weer herinner dat ons nie die wêreld hoef reg te ruk nie – God doen dit reeds.


Vrou van God, maak hierdie jaar tyd om stil te word by jou Skepper. Die wêreld gaan nie ophou draai nie, maar jy kan kies om stil te raak en jou hart weer met Syne in lyn te bring. Jy hoef nie alles te weet of te verstaan nie; jy hoef net stil te wees en te weet dat Hy God is.


Laat 2025 die jaar wees waarin jy bewus stilword. Waar jy ophou jaag, ophou baklei teen die storm, en eenvoudig rus in Sy arms. Want dit is in hierdie heilige oomblikke van stilte dat ons die grootste wonderwerke beleef – God se stem wat ons saggies lei, Sy hand wat ons optel, en Sy liefde wat ons omvou.

 
 
 

Comments


Commenting on this post isn't available anymore. Contact the site owner for more info.
bottom of page