top of page
Search

Stap liewer weg

  • Writer: Maryna Eksteen
    Maryna Eksteen
  • Feb 12
  • 3 min read

Die mag van lewe en dood is in die tong. – Spreuke 18:21


En tog vergeet ons dit so maklik. Iemand in my familie het my onlangs verskriklik seergemaak oor my gewig. ’n Onderwerp wat al soveel konflik veroorsaak het, want vir party mense is oorgewig glo die lelikste ding wat ’n mens kan wees. Asof dit jou hele menswees definieer. Asof dit die enigste ding is wat hulle sien.


Ek het natuurlik eers my oë uitgehuil. Want ja, daar is waarheid daarin. Ek het meer as 60 kg opgetel. En net soos dit, begin my gedagtes met my weghol.


Jy is nie mooi nie.

Jy is nie goed genoeg nie.

Jy het nog niks in jou lewe bereik nie.

Jy is ’n slegte ma.

Jou huwelik is ’n ramp.

Jy is nie ’n goeie vrou, werknemer of mens nie.

Jy kan niks regdoen nie.


My ma sê mos altyd ek kan ’n dooie perd lewendig dink, so jy kan jou indink waarheen hierdie dooie perd oppad was.


Ek het dae… nee, weke hieroor gesit en tob.


Dis hoe die vyand werk. Die duiwel is ’n slinkse outjie. Hy gebruik een sin, een opmerking, een skerp tong, en bou ’n hele storie in jou kop. En voordat jy jou oë uitvee, het selfhaat al begin wortelskiet.


En toe draai dit verder. Skielik is dit nie meer net oor my gewig nie. Nou is dit: “Ja-nee, dis mos kerk mense.” “Dis hoekom mense nie meer kerk toe gaan nie.” Want die plot twist?


Die persoon wat my so vieslik hanteer het, is deel van ’n kerk se bedieningspan. Iemand wat vir ander mense berading gee. Iemand met aansien. Nou luister mooi: ek is nie onskuldig nie. Ek kan ook lelik raak. Ek kan ook woorde gooi wat sny as ek wil. Maar hierdie keer het ek gekies om nie woorde te wissel nie. Ek het geblok. Stilgebly. Weggestap.

Nie omdat dit maklik was nie. Maar omdat ek geweet het: as ek nou praat, gaan ek iets sê wat ek nie kan terugvat nie.


En dis toe ek besef het: ek gaan hierdie gedagtes gevange moet neem – en vinnig. Want woorde wat ander oor jou spreek, word maklik woorde wat jy oor jouself begin spreek en glo. En dít is gevaarlik.


Ons onderskat die mag van die tong. Ons praat sommer. Ons “sê net”. Ons “bedoel dit nie so nie”. Maar woorde bly nie net in die lug hang nie – hulle skiet wortel in iemand se hart. In iemand se selfbeeld. In iemand se verhouding met God, met hulleself, met ander mense.

Ek dink dit help om jouself hierdie vraag te vra:

As Jesus letterlik langs jou staan, sal jy dieselfde praat?

As Jesus in die vertrek sit, sal jy nog so skinder?

As Jesus saam met jou ry wanneer die taxi voor jou indraai, sal jy nog so vloek en skree?

As Jesus langs jou op WhatsApp sit, sal jy nog daai boodskap stuur?


Jammer om jou bubble te bars, maar Hy is daar. Hy is altyd daar. Ons woorde maak saak. Nie net die groot, harde woorde nie – ook die sogenaamde grappies. Die “eerlike” opmerkings. Die passief-aggressiewe kommentaar. Die stil veroordeling.


Woorde kan bou.

Woorde kan breek.

Woorde kan genees.

Woorde kan doodmaak.


En ja, dit sluit ook die woorde in wat jy oor jouself praat. Begin eerder bid en sê, “Here, plaas ’n wag voor my mond.” “Help my om stadiger te praat en vinniger te dink.” “Help my om lewe te spreek – oor ander én oor myself.”


Want jy weet nooit watter stryd iemand reeds voer voordat jy jou mond oopmaak nie.

En jy weet nie watter saad jy plant nie. Jou woorde kos iemand hulle geloof, hulle hoop, hulle vertroue of dalk hulle lewe. Ek kies om lewe eerder as dood te spreek en op dae wanneer die vlees baie gewillig is om lelik te praat gaan ek probeer om eerder vrede te kies en weg te stap. 


 
 
 

Comments


Commenting on this post isn't available anymore. Contact the site owner for more info.
bottom of page