top of page
Search

Dink voor jy tik!

  • Writer: Maryna Eksteen
    Maryna Eksteen
  • Oct 16
  • 4 min read

Dit voel vir my of die mens elke dag net leliker word. Dis asof ons vergeet het hoe om in liefde te lewe. Ons het so selfsugtig geraak en ons gee eenvoudig nie meer om wat ons sê of doen nie. Dit is dalk ‘n baie “unpopular” opinie maar dis hoe ek voel. Dis geen geheim dat ek my hart hier op ‘n Word-dokument uitstort nie. En as jy dit lees, dan beteken dit dat ek besluit het om dit te deel.


“Die ding kon nog nooit sing nie!!! Dink hy hy is die volgende Theuns Jordaan...”


“Ok. Kots Derm. Ons hoor jou. Hop hop nou maar na Jurie Els toe. Dalk kry julle saam 3 toeskouers.”


“Haal tog net daai ellendige meisie van die lug af, sy is irriterend en gaan dit nie maak nie.”


“Ja, wel. As jy jou met die varke meng ... die Bybel sê jy mag nie saam slaap voor die huwelik nie. Jy het jouself lekker goedkoop gemaak. Kry vir jou.”


“Sy is so dik, ek kan amper nie glo sy pas eers op die skerm nie.’’


“Nee, hel. Die ding kan nie sing nie. Sit dit af!”


“Die ding is so fake soos ‘n Crazy Store Barbie.”


Hierdie is maar net ‘n paar voorbeelde van comments wat ek die laaste rukkie op verskillende plasings raak gelees het. Een van dié gaan oor my. Dan moet ek by sê dit is nog ‘n mooi belediging. Hierdie is ook comments wat ek net so gaan copy het. En ja, voor jy my taalgebruik veroordeel, ek is al daaroor ook oor die vingers getik.


Ons leef in ’n wêreld waar jy net op jou sleutelbord kan spring en jou mening met die wêreld kan deel. Ek het al so baie gesit en lees wat mense kwyt raak, dan dink ek: “sal jy dit vir jou dogter of vrou sê?” of “hoe sal jy daarvan hou as iemand jou so sleg sê?” Ons vergeet soms dat agter elke skerm sit ’n mens — ’n mens met gevoelens, drome en baie seer en verwerping as hulle jou vieslike kommentaar lees.


En tog sien ons daagliks hoe mense lelike goed sê op die internet: venynige opmerkings, slym onder foto’s, woede in kommentaarlyne. Veral Christene, mense wat sê hulle volg Jesus, raak soms vasgevang in hierdie aanlyn veldslae. En nee, ek oordeel nie.


Die Bybel het lank voor die uitvinding van die internet reeds geweet dat woorde krag het: “Dood en lewe is in die mag van die tong, en elkeen wat daarvan hou, sal die vrug daarvan eet.” – Spreuke 18:21. Die probleem met die mens is dat hy goed is met versies aanhaal wat in sy milieu pas. In Spreuke 15:1 lees ons: “’n Sagte antwoord keer die grimmigheid af, maar ’n krenkende woord laat woede opvlam.”


Dis maklik om vinnig te reageer — veral as iemand onregverdig of beledigend is. Maar God roep ons tot iets anders. Hy vra dat ons eers dink voor ons praat of in ons tyd, dink voor ons tik. Ek is so naar vir mense wat dink hulle kan sê wat hulle wil. En dit gaan nie oor Kurt Darren of oor my nie. Dit gaan bloot daaroor dat ons harte so verlore is dat ons vergeet om eerder die regte ding te doen.


Jy hoef nie van Kurt Darren te hou nie, maar jy hoef jou opinie oor hom vir jouself te hou. Ek is glad nie mal oor sy musiek nie, maar ek ken hom nie as mens nie, so wie is ek nou eintlik om iets lelik te sê? Die beste deel is natuurlik, baie van die comments kom van mense af wat 2 min terug ‘n Christelike post gedeel het of ‘n “cringy” Christelike prentjie op hulle profiel foto’s het.


Voordat jy send druk, vra vir jouself:

Is dit waar?

Is dit nodig?

Is dit liefdevol?


As die antwoord “nee” is op enige van daardie drie, is stilte dalk die wyser keuse.


Jakobus is een van my heel gunsteling boeke in die Bybel. Jakobus waarsku ons duidelik: “Elke mens moet haastig wees om te hoor, stadig om te praat, stadig om kwaad te word.” – Jakobus 1:19


Ons is so vinnig om te praat — of te tik — maar stadig om te luister. En tog is dit in die luister waar wysheid lê. Soms vra liefde dat jy nie jou sê kry nie, maar dat jy vrede kies.

As kinders van God moet ons aanlyn anders lyk. Ons woorde moet die geur van genade dra, selfs as ons verskil. “Laat julle woord altyd aangenaam wees, met sout besprinkel, sodat julle weet hoe julle elkeen behoort te antwoord.” – Kolossense 4:6


Elke liewe kommentaar, elke boodskap, elke deel-knoppie — dit alles sê iets oor wie ons is. Dit is regtig beter om partykeer net verby te scroll of nog beter, maak Facebook en Instagram toe en gaan lees bietjie jou Bybel of kyk ‘n mooi film. Gaan stap in die tuin of lees ‘n Francine Rivers boek. Gaan bak iets of gaan pak “daai” laai uit, jy weet mos. Almal het so ‘n laai met klomp random gemors in. Al die klein goedjies wat in jou pad lê wat jy net wil wegsit. Jy gaan soveel beter voel en jy gaan ‘n beter mens wees.


Ek maak ‘n punt daarvan om nie op goed te comment nie. Dis regtig nie nodig of wys nie.

Mag ons vroue wees wat lig dra in ’n donker aanlyn wêreld.


Mag ons woorde genesing bring in plekke waar seer die norm geword het.


Mag ons sag bly, selfs as ander hard is.


Want uiteindelik, die wêreld het nie nog ’n keyboard warrior nodig nie.


Die wêreld het Jesus-vroue nodig — vroue met wysheid, sagtheid en genade op hulle lippe, selfs agter ’n skerm.?”

 
 
 

Comments


Commenting on this post isn't available anymore. Contact the site owner for more info.
bottom of page