top of page
Search

Dis nie maklik nie, maar dis heilig

  • Writer: Maryna Eksteen
    Maryna Eksteen
  • May 22
  • 2 min read

Dis moeilik om ’n vrou te wees. Maar dis nog moeiliker om ’n Christen vrou te wees in ’n wêreld wat vir jou wil sê jy’s óf te veel óf te min. Te hard, te sag. Te konserwatief, te losbandig. Te emosioneel, te koud. As jy sterk is, word jy arrogant genoem. As jy stil is, word jy oorgesien.


Dan wil jy nog met integriteit leef ook. Jy wil Jesus volg, rein bly in ’n kultuur van gemak, lief wees sonder om oortree te word, staan vir waarheid sonder om mense af te skrik. Jy wil ’n goeie vrou wees. ’n Ma wat nie net kos maak nie maar harte vorm. Jy wil geestelik groei, jou Bybel lees, bid, aanbid, en tussendeur onthou waar jy die vuil wasgoed gelos het.


En as jy eerlik is — is jy ook moeg. Nie net fisiek nie, maar emosioneel en geestelik. Want jy voel partydae dat jy nie wen nie. Nie teen die standaarde van die wêreld nie. En partydae nie eers teen jou eie verwagtinge nie.


Maar hier’s die goeie nuus: Jesus het nooit gesê dit sal maklik wees nie. Hy het gesê dit sal goed wees.


Hy’t belowe in Matteus 11:28-30: “Kom na My toe, almal wat vermoeid en belas is, en Ek sal julle rus gee… My juk is sag en My las is lig.”


Jesus weet wat dit is om teen die stroom te swem. Hy weet wat dit is om onregverdig beoordeel te word, om verwagtinge op jou te hê wat jy nie verdien nie. En Hy vra nie van jou om alles perfek te doen nie — Hy vra net dat jy by Hóm sal wees. Dat jy Hom sal toelaat om jou te dra.


Wanneer die wêreld se geraas té hard raak — gaan sit by Sy voete. Maak die slimfone toe, die kommentaar stil, die sosiale media sag. Klim in jou binnekamer en sê net: “Jesus, ek’s hier.”


Hy’s nie ’n God van skedules en perfekte ouerskapplanne nie. Hy’s ’n God van genade. ’n God wat vroue raakgesien het toe die samelewing hulle afgeskryf het. ’n God wat ’n Samaritaanse vrou by ’n put roep om lewende water te ontvang. ’n God wat vir Marta sê om op te hou stres en vir Maria sê: jy’s op die regte plek — aan My voete.

Dis nie maklik nie. Maar dis heilig.


Om ’n Christen vrou te wees is nie om altyd reg te wees nie. Dis om áltyd naby aan Jesus te bly. En hoe nader jy aan Hom is, hoe meer smoor Hy die wêreld se remoer.


So wees vandag net dit: naby aan Hom. Dis genoeg. Hy is genoeg. En in Hom is jy genoeg!

 
 
 

Comments


Commenting on this post isn't available anymore. Contact the site owner for more info.
bottom of page