top of page
Search

Ek is die hoof uitvoerende beampte van my eie seer

  • Writer: Maryna Eksteen
    Maryna Eksteen
  • May 15
  • 2 min read

Ek is nie altyd nie die slagoffer nie, al dink ek dat ek is. Ek is die oortreder. Nie doelbewus nie… maar beslis dodelik. Nie uit haat nie… maar uit vrees. Nie omdat ek nie omgee nie… maar omdat ek te veel omgee.


Ek is iemand wat maklik vergewe… in teorie. In die praktyk bou ek eerder ’n muur en dan sit ek op die puin en kry myself jammer. Ek maak eerder seer voordat iemand kans kry om my seer te maak. Dis nie iets waarop ek trots is nie. Dis iets waarvoor ek al bitter spyt was.


Op universiteit het ek twee van die mooiste vriendskappe gehad — twee vroue wat regtig vir my omgegee het. Ons was 'besties'. Maar toe begin ek glo dis té mooi. Té maklik. Té veilig. En ek’t dit afgebreek. Ek’t hulle weggestoot omdat ek bang was om naby te wees. Bang dat hulle dalk sou wegloop… toe loop ek eerste. En vandag sien ek hulle saam op foto’s by mekaar se troues, saam by koffiewinkels of gesellighede, — en ek’s nie daar nie. Nie omdat hulle my nie wou hê nie… maar omdat ek nie myself toegelaat het om geliefd te wees nie.


My toxic trait? Ek sny vinniger af as wat Eskom onverwags beurtkrag op ń Vrydag middag aankondig. En ek’s moeg vir daardie verdedigingsmeganismes wat my nie beskerm nie, maar my eerder verarm.


As jy ook maar so is…ek sien jou. En as jy dalk aan die ander kant staan — die een wat weggegooi is, sonder verduideliking of rede — ek sien jou ook.


Maar weet jy wie sien ons albei? Jesus.


Hy sien die een wat seermaak. Hy sien die een wat seerkry. En Hy draai nie Sy gesig weg vir enigeen van ons nie.


Die Here het my al so liefdevol tereggewys. Hy kon laat skaam voel — maar Hy het eerder my hart oopgevou en gewys hoe bang ek is. Hy bring genesing.


Hy leer my stadig om nie mense weg te stoot nie. Hy leer my dat liefde risiko is — maar dat sy liefde nooit sal teleurstel nie.


En as jy aan die ander kant staan, dalk verlate of verwerp deur iemand soos ek — weet net: dis nie jou skuld nie. Soms is mense so gebreek dat hulle vooraf breek wat vir hulle mooi is. Maar Jesus kan jou seer kom dra. En waar daar verwarring is, bring Hy helderheid. Waar daar verwerping is, bring Hy aanvaarding.


As jy dit nog nie gehoor het nie, "ek is jammer' ... En waar jy jouself vandag mag bevind - hetsy aan die uitdeel of die ontvang kant - gaan sit by Jesus se voete. Verál as jy die oortreder is. Gaan raak eers stil voor Abba en dan maak jy ń besluit. Ek belowe jou, die besluite wat jy maak gaan anders lyk.

 
 
 

Comments


Commenting on this post isn't available anymore. Contact the site owner for more info.
bottom of page