God sorg op vreemde maniere
- Maryna Eksteen

- Nov 7, 2024
- 2 min read
Een oggend stap ‘n vriendin van my by die werk in, haar gesig stralend van opgewondenheid oor ‘n storie wat sy móét deel. Haar kinderlike vreugde was so aansteeklik dat ons almal dadelik nuuskierig was om te hoor wat gebeur het.
Sy vertel hoe sy die vorige middag by haar huis aankom en twee klein dogtertjies by ‘n tafeltjie sien sit, ‘n papierbordjie voor hulle met die woorde "bracelets for sale". Met haar sagte hart kon sy eenvoudig nie verbyry nie, en het besluit om te stop. Sy vra of sy ‘n armbandjie kan koop, en haastig ry sy huis toe om haar hond en 'n verlore R20-noot te gaan haal.
Met haar terugkeer stap sy af na die dogtertjies, waar sy na die armbandjies kyk. "Nie die mooiste armbandjies nie," vertel sy met ‘n glimlag, maar sy koop twee van hulle. Terwyl hulle besig is met die transaksie, kom die buurvrou se seuntjie op sy fietsie aan. Hy stop en vra die dogtertjies of hulle die armbandjies verkoop, waarop hulle antwoord ja. Die seuntjie begin toe in sy broeksak grou, haal ‘n paar munte uit – omtrent R3.50, vertel sy – en gee dit vir die dogtertjies. Hulle sê vir hom hy kan ‘n armbandjie kies, maar hy sê eenvoudig, “Nee dankie,” en ry verder.
Hierdie klein, eenvoudige oomblik het haar hart laat smelt. Sy sê dit het haar herinner aan die verhaal van die weduwee in die Bybel, wat haar laaste sente gegee het (Markus 12:41-44). Sy sien hierdie gebaar nie net as iets mooi nie, maar as ‘n daad van vertroue en ‘n "pay it forward" oomblik. Dit is in tye soos hierdie, sê sy, dat sy weer besef het hoe ons op God kan vertrou om vir ons voorsiening te maak, selfs in die klein en groot oomblikke van ons lewe.
In hierdie storie sien ons die waarde van vertroue – vertroue dat God sal voorsien, selfs wanneer ons min het om te gee. Soos in Spreuke 3:5-6 staan: “Vertrou volkome op die Here en moenie op jou eie insigte staat maak nie. Ken Hom in alles wat jy doen en Hy sal jou paaie gelyk maak.” En in Psalm 37:5 word ons herinner: “Laat jou weg aan die Here oor en vertrou op Hom; Hy sal sorg.”
Dis mooi om te weet dat daar steeds sulke oomblikke van liefde, gee en vertroue in ons wêreld is – 'n herinnering dat ons, selfs in moeilike tye, altyd op God kan vertrou om vir ons te sorg, net soos die klein seuntjie wat sy laaste sente gegee het sonder om iets terug te verwag.




Comments