God weet beter
- Maryna Eksteen

- Feb 5
- 3 min read
Hierdie toneel ken ons almal. Jy hardloop net in by die winkel – net gou – en daar, tussen die rakke, breek die hel los. ’n Tweejarige met ’n longkapasiteit wat selfs ’n rugby-skare jaloers maak. Hy wil die R800-kar hê. Nie enige kar nie. Daai een. Nou. Dadelik.
Met alles in jou wil jy die kar vir jou kind koop maar jy weet jy kan dit nie nou bekostig nie, hy het reeds te veel speelgoed of ouma het dit klaar vir hom gekoop en toegedraai. Maar logika beteken niks vir ’n tweejarige nie.
So daar staan jy. Rooi gesig. Ore warm. Jy probeer onderhandel soos ’n diplomat. Jy fluister: “Asseblief… mamma koop vir jou iets anders…” of “liefie, hou op huil dan kano ns ‘n melkskommel gaan drink” … Intussen kyk mense. O, hulle kyk. Jy kan hoor wat hulle dink: “Daai kind is ’n brat.” “Ja-nee, millenial ouers .” “In my tyd het ons pak gekry.”
En jy dink net: Here, gee my Geduld want met krag gaan ek hierdie kind iets aandoen.
Want jy mag mos nie meer ’n kind pak gee nie. Maak geen fout nie – hy kry pak – maar as iemand my nou nader en sê dis mishandeling, gaan ek my Christelikheid êrens tussen Paw Patrol en die Barbies in die derde ry verloor.
Al wat jy eintlik wil hê, is dat die kind net moet kalmeer. Dat hy jou vertrou. Dat hy glo mamma weet beter.
Ek dink God voel soms presies so oor ons. Dis nou jammer dit het ‘n tweejarige met longe van staal gevat vir my om dit te besef. Maar hier is dit nou. Ons bid. En ons bid hard. En ons bid spesifiek. “Here, gee vir my dit.” “Here, ek wil nou.” “Here, ek verstaan nie hoekom nie.”
En as dit nie gebeur nie? Dan gooi ons… wel… ’n vloermoer.Ja, ek het nou net daardie woord gebruik.
Ons raak kwaad vir God. Ons vra hoekom Hy nie doen wat ons vra nie. Want staan dit dan nie in die Bybel nie?
“Vra, en vir julle sal gegee word.” – Matteus 7:7
Maar wat ons vergeet, is dat God nie ’n speelgoedwinkel is nie, Hy is die Almagtige God van hemel en aarde. En ons is nie altyd besig om vir die regte dinge te vra nie. Maak geen fout, God gaan nie met jou onderhandel nie.
Die verskil tussen ons en die tweejarige?
Die tweejarige leer nog wat nee beteken – jy behoort dit al te weet.
Die tweejarige weet nog nie hoe om sy emosies te reguleer nie – jy doen.
Die tweejarige weet nog nie hoe om op God te vertrou nie – jy doen.
So hoekom raak ons kwaad? En wat leer ons vir ons kinders wanneer ons as grootmense ook soos hulle optree en tantrum as ons nie ons sin kry nie?
God gee nie altyd vir ons wat ons wil hê nie, maar Hy gee altyd vir ons wat ons nodig het. Net soos jy nie vir jou kind daai R800-kar koop nie – nie omdat jy hom nie liefhet nie, maar juis omdat jy hom liefhet.
Jy sien verder as die oomblik.Jy sien die groter prentjie.Jy weet wat goed is en wat nie.
En God doen presies dieselfde met ons.
Soms voel Sy “nee” soos straf, maar eintlik is dit beskerming.Soms voel Sy stilte soos afwesigheid, maar eintlik is Hy besig om ons te leer vertrou.
So volgende keer as jy in die winkel staan met ’n skreeuende tweejarige – of op jou knieë met ’n gebed wat onbeantwoord voel – onthou dit:Jy is nie ’n slegte mamma nie.En God is nie ’n onregverdige Vader nie.
Hy sê soms nee.Nie om ons te breek nie.Maar om ons te vorm.En om ons te leer: Hy weet beter.




Comments