Jesus kan wonders doen met die pap op die vloer
- Maryna Eksteen

- May 1
- 2 min read
Ek weet nie van jou nie, maar ek voel soms soos daardie ma wat alles probeer balanseer… en alles gelyktydig laat val. Dis werk. Dis ń baba. Dis studies. Dis huwelik. Dis kos maak, vriende onthou, skoonfamilie drama, kerk toe gaan en probeer om áltyd okay te lyk. Ek gee my alles, maar partydae voel dit asof die pap op die grond val — en ek's te moeg om dit op te tel.
Die wêreld het so hard geraak en mense oordeel geweldig vinnig. Vroue móét alles wees: sag én sterk, voltyds ma én voltyds loopbaanvrou, fiks én gebalanseerd, betrokke én kalm. Maar wat as jy net moeg is? Wat as jy voel jy faal by almal, insluitend jouself?
Ek was daar. Ek is daar, baie dae.
En tog, in daardie plek van oorweldig wees, het ek Jesus opnuut leer ken. Nie as die Verlosser wat net op Sondae in die kerk gepas is nie, maar as die Een wat saam met my op die kombuisvloer sit terwyl ek huil, en sê: “Jy hoef nie alles te wees nie — Ek is.”
Hy sien jou.
Psalm 121:3 sê: Hy sal jou voet nie laat wankel nie; Hy wat jou bewaar, sal nie sluimer nie. Jy val nie uit Sy hand nie, selfs al voel dit of alles uit joune glip.
Hy verstaan jou.
Jesus weet hoe dit voel om uitgeput te wees, om van mense afhanklik te wees wat jou teleurstel, om verwagtinge op jou te hê wat jy nie kan dra nie. Hy sê in Matteus 11:28: Kom na My toe, almal wat vermoeid en belas is, en Ek sal julle rus gee.
Hy dra jou.
Ek het geleer dat ek nie my eie vrede kan “maak” nie. Ek moet dit ontvang. Wanneer ek myself toelaat om voor Hom stil te raak, al is dit net vyf minute in die kar voor ek iemand optel, dan doen Hy iets bonatuurliks in my. Nie altyd om die storm te stil nie, maar om my te stil temidde van die storm.
Suster, as jy vandag voel jy’s nie genoeg nie — jy is nie alleen nie. En jy hoef nie ál die balle in die lug te hou nie. Bring net jou chaos na Jesus toe. Jy sal verbaas wees wat Hy met pap op die vloer kan doen.
Vra Hom om jou hande te vul waar jy leeg voel. Vra Hom om jou hart te dra waar jy moeg is. Jy hoef nie self alles reg te kry nie — jy het ʼn Redder wat alles alreeds oorwin het.




Comments