top of page
Search

Jy is soos ’n koffieboon

  • Writer: Maryna Eksteen
    Maryna Eksteen
  • Jul 10
  • 3 min read

Ek was onlangs by ’n coffee-tasting. Ek het so paar klein koppies voor my gehad en gemaak of ek weet wat “earthy”, “nutty” en “bright acidity” beteken. Ek kan eerlikwaar nogsteeds nie die verskil proe nie, maar ek weet net dit was lekker. Ek het half tong-in-die-kies gegaan, net om dit te probeer, maar ek het nie geweet dat ek daar sou sit en ’n openbaring kry nie. ’n Openbaring oor my geestelike lewe—en hoe ek, jy, ons almal—soos koffie bone is.


Wat ek nie geweet het nie, is hoe ongelooflik ingewikkeld die proses is om daardie klein boontjie in jou koppie te kry nie. Dis nie sommer net “plant en brou” nie. Nee, dis 'n rou, stadige proses. En ek het daar gesit en besef: Dis ek. Dis my lewe. Dis wat God met my doen.


Alles begin met ’n klein saadjie. Dis geplant in die donker, onder die grond, waar niemand dit sien nie. Dis nat, stil, en koud. Net soos ons, wanneer God iets nuuts in ons begin werk. Dis ongemaklik. Niemand sien die groei nie, en soms voel dit asof niks gebeur nie. Maar onder die oppervlak is daar lewe.


Wanneer die tyd reg is, word die rooi “cherry” van die koffiebessie met die hand gepluk. Een vir een. Die boere weet: as jy dit te vroeg of te laat oes, is die smaak nie reg nie. So ook werk God met ons. Hy is nie haastig nie. Hy weet wanneer ons gereed is om ge-oes te word—om vorentoe te beweeg, te verander, te groei.


Dan kom die moeilikste deel vir my hart: die wasproses. Die koffiebone word geweek en gefermenteer. Alles wat nie reg is nie—vuil, pulp, ekstra lae—word afgetrek. En ja, dit vat dae. Dit stink. Dis ongemaklik. Dalk is jy nou daar—God trek goed van jou af. Hy wys vir jou dinge in jou hart wat jy moet laat gaan. Hoogmoed. Vrees. Bitterheid. Onvergewensgesindheid. Hy doen dit nie om jou seer te maak nie, maar om jou skoon te maak.


Nou word die bone uitgesprei om te droog. En dis nie ’n vinnige oond proses nie—dis ure in die son. In die hitte. In wag. En dis daar waar ek en jy soms wil opgee. Wanneer ons voel ons is “uitgesprei” voor almal. Maar dis presies in daardie droë tyd, daardie woestynseisoen, waar God ons karakter vorm. Waar Hy ons sterk maak, maar ook sag—sodat ons later, wanneer die druk kom, reg kan reageer.


Dan, uiteindelik, kom die roast. Die hitte. Die vuur. Die toets. Dis waar geur na vore kom. Alles wat daardie boontjie in hom gehad het, kom uit in die brand. En net so bring God soms hitte in ons lewe—moeilike mense, uitdagings, verliese—om dit wat hy in ons geplant het na vore te bring.


En uiteindelik, uit al die seer, wag, was en vuur—kom ’n geur. ’n Opoffering. ’n Lewe wat ander kan voed, inspireer, bemoedig. Daardie warm koppie koffie wat iemand troos. Dis jy. Jou lewe. Jou storie. Jou seer. Dit het ’n doel. Jy is nie net 'n boontjie nie—jy is deel van iets groter.


Liewe vrou soos ek, dalk voel jy nou soos ’n nat boontjie in fermentasie. Dalk voel jy uitgewas. Dalk droog. Dalk gebrand. Maar ek wil hê jy moet weet: jy is in die hande van die Meester van koffie roasting. Hy weet presies wat Hy doen. Hy het nie vergeet van jou nie. Hy’s besig met jou. En as jy kan aanhou vertrou, aanhou wag, aanhou glo—sal jy sien: wat uit jou lewe kom, gaan ander voed. Dit gaan lig en lewe bring.


Moenie die proses minag nie. Moenie dink jy’s klaar nie. Jy’s besig om gebrou te word vir iets heiligs.


So, die volgende keer as jy aan jou oggendkoffie ruik—onthou: Jy is ook op pad om iemand anders se seën te wees, ‘n lekker koppie koffie.

 
 
 

Comments


Commenting on this post isn't available anymore. Contact the site owner for more info.
bottom of page