Lief Wees Vir Jouself is ’n Goddelike Opdrag
- Maryna Eksteen

- Sep 30, 2024
- 3 min read
Ons hoor so baie dat ons ander mense moet liefhê – familie, vriende, jou vyande en selfs vreemdelinge. Maar hoe gereeld word ons herinner om onsself lief te hê? Dit voel so bietjie vreemd om te dink dat jy jouself lief moet hê. Om jouself lief te hê, is ’n belangrike deel van ’n gesonde lewe, want as jy nie vir jouself kan lief wees nie, hoe kan jy regtig vir ander mense lief wees?
In Markus 12:31 gee Jesus ons een van die belangrikste gebooie: "Jy moet jou naaste liefhê soos jouself." Kyk mooi na hierdie woorde – "soos jouself." Daar word ‘n van ons verwag om ons naaste met dieselfde liefde en sorg te behandel wat ons vir onsself het. Dit impliseer dat daar ’n gesonde mate van selfliefde moet wees vir hierdie gebod om werklik uitgeleef te word.
Om jouself lief te hê beteken nie om arrogant of selfgesentreerd te wees nie. Dit gaan eerder daaroor om jouself deur God se oë te sien – as kosbaar, waardevol en geliefd. Ons is geskape na Sy beeld, en dit alleen maak ons waardig om goed vir onsself te wees. Psalm 139:14 herinner ons: "Ek loof U omdat ek so wonderbaar en merkwaardig gemaak is; wonderbaar is u werke."
Hierdie vers herinner ons daaraan dat ons met doel en sorg gemaak is. Ons waarde lê nie net in wat ons vir ander kan doen nie, maar in wie ons is as individue, uniek geskape deur God.
Selfliefde manifesteer in hoe ons na ons liggaam, verstand en gees omsien. Dit gaan oor meer as net fisiese sorg – dit sluit ook in hoe ons ons gedagtes en emosies bestuur. Ons moet onsself toelaat om te rus, om grense te stel, en om nee te sê wanneer dit nodig is. Jesus self het gereeld tyd alleen geneem om te bid en te herstel. Hy het geweet dat daar ’n balans moet wees tussen gee en ontvang. Wanneer ons onsself oorwerk of konstant in die behoeftes van ander opgaan sonder om na ons eie behoeftes te kyk, raak ons vinnig uitgeput.
In 1 Korintiërs 6:19-20 sê Paulus vir ons: "Julle liggaam is ’n tempel van die Heilige Gees wat in julle is...Verheerlik God dan in julle liggaam." Hierdie vers dui op die waarde van ons liggaam en hoe ons dit met respek moet hanteer. Om lief te wees vir jouself beteken om gesonde keuses te maak – fisies, emosioneel en geestelik.
Ons is geneig om ons eie grootste “critics” te wees . Ons verwag dat ons alles moet regkry en niemand teleurstel nie. Maar ware selfliefde beteken om jouself genade te gee, net soos God ons genade gee. Jesaja 43:4 sê: As God ons kosbaar ag, wie is ons om anders te dink? Ons moet leer om sag te wees met onsself, om ons foute te vergewe, en om weer op te staan wanneer ons val.
Deur onsself lief te hê, kan ons, ons naastes beter lief hê. As ons voortdurend uit 'n leë beker probeer skink, gaan ons uiteindelik niks hê om te gee nie. Deur tyd vir onsself te neem, ons geestelike en emosionele gesondheid te versorg, en ons verhouding met God te versterk, word ons bemagtig om met ware liefde en geduld na ander uit te reik.
In Matteus 11:28-30 herinner Jesus ons aan Sy teenwoordigheid wanneer ons moeg is: "Kom na My toe, almal wat vermoeid en belas is, en Ek sal julle rus gee.”
Hierdie uitnodiging is nie net vir ons verhouding met Hom nie, maar ook vir ons verhouding met onsself. Jesus wil hê dat ons in Sy rus sal ingaan en vir onsself sal sorg met die wysheid en genade wat Hy vir ons gee.
Om jouself lief te hê is nie ’n teken van selfgesentreerdheid nie – dit is ’n noodsaaklike stap in jou verhouding met God en ander. Wanneer ons leer om onsself met deernis en sorg te behandel, volg ons Christus se voorbeeld van liefde en gee ons onsself die ruimte om te groei en om vir ander te kan wees wat hulle nodig het.
God roep ons om ons naaste lief te hê, maar eers moet ons leer om onsself opreg lief te hê.




Comments