top of page
Search

Louwarm? Nee dankie, ek kies warm!

  • Writer: Maryna Eksteen
    Maryna Eksteen
  • Jan 23
  • 4 min read


Ek sit nou al vir ‘n geruime tyd met ‘n honger in my hart om net weer my verhouding met die Here op dreef te kry. Ek sê vir myself dat ek die tyd gaan uitkoop om te bid of my Bybel te lees, maar ek commit nooit regtig om dit te doen nie. Ek het die Bible App op my foon en ek kry elke oggend 06:00 ‘n versie van die dag wat ek meeste dae nie eers lees nie. Skande! Maar maak geen fout as dit moeilik gaan weet ek presies hoe om te bid. 


Ek het al so baie Openbaring 3:15-16 raak gelees op sosiale media (ja ek weet, hoekom nie in my Bybel nie?) maar dit het nooit regtig ingesink tot nou nie. Johannes skryf: “Amen, die getroue en ware getuie, die begin van God se skepping, “ ‘Ek ken jou dade, dat jy nóg koud, nóg warm is. Was jy nou maar koud of warm! Maar omdat jy louwarm is – nóg warm, nóg koud – gaan Ek jou uit my mond spoeg.” Hierdie versie het my nog altyd angstig gemaak maar ek het dit gelees, skuldig gevoel en weer aangegaan met my lewe. Nou dat ek ‘n ma is, tref hierdie versie so bietjie harder. Ek is een van daai mense wat glo dat eerlikheid maar altyd die beste roete is. Jy kan lieg vir mense om jou maar God ken jou hart en daarom sal ek dit nou maar hardop sê, ek is ‘n louwarm Christen!


Die probleem daarmee om louwarm te wees is dat jy eintlik niks met louwarm water kan doen nie. Dis nie warm genoeg vir koffie nie en ook nie koud genoeg om te drink nie. Het jy al louwarm water gedrink? Dit maak mens eintlik naar. Louwarm soutwater tel nou nie hier, die water beteken nog steeds niks sonder die sout nie. Maak geen fout nie, al is jy ‘n vuurwarm Christen, is jy maar nog steeds ‘n sondaar. Ek dink net mens hanteer lewe en sy uitdagings beter as jy vuurwarm is.


Ek het een Sondag oggend vir my seuntjie gaan klere soek in Ackermans en die klere het heeltyd op die vloer bly val. Dit was asof die hanger my geduld behoorlik wou toets en na die vierde keer wat die hempie geval het, het ek my vieslik vererg en sommer hardop gesê, “ag voetsek dan net jou stuk gemors!” en ek het sommer met ‘n stink houding die hemp net op ‘n random rak gaan hang om dit uit my lewe uit te kry. Die Here het my vinnig reggeruk, want net so paar minute daarna stap die dierbaarste tannie na my toe. Soos die noodlot dit soek, is dit mos nou ‘n tannie van die kerk. Ek het amper tussen die klere rak saam die simpel hanger ingeklim. Ek het so skaam gekry en nie geweet waar om my kop in te steek nie. Ek meen, by die kerk glimlag jy mos soos ‘n meisie op ‘n pageant show. Jou wange raak eintlik seer omdat jy “oorvriendelik” is. 


Ek het die tannie toe nou maar heel ordentlik gegroet, wetende dat sy my swak optrede gesien het. Ek het by Ackermans uitgestap, baie bewus van die les wat ek nou geleer het. Ek was daai dag louwarm. Vriendelik by die kerk en toe ek en daai hanger mekaar nou nie lekker verstaan nie toe vergeet ek van my Christelike waardes. 


Ek weet ek is lief vir die Here en ek weet ook dat ek Hom bo alles respekteer maar ek is belsis nie altyd warm nie. Ek wil amper sê, “dis okay” maar dit is nie. Mens kan geiriteerd raak en kwaad raak en ogelukkig raak, maar ek dink hoe jy optree en wat jy met daardie emosies doen bepaal hoe warm, louwarm of koud jy is. Ek weet ook dat as ek net so bietjie dieper gedelf het in my verhouding met die Here, dat ek die situasie dalk beter en meer volwasse sou hanteer. 


Dis nie altyd maklik om die Here met oorgawe te dien nie. Lewe kom in die pad. Kinders, huis skoon maak, werk, tyd uitkoop vir familie, die lysie gaan aan. Ek dink die belangrikste is om tenmiste net te probeer. Ek sal met baie oortuiging, eerder vir 30 minute gaan stil word in my kamer voor ek Virgin River kyk. Ek gaan nie jok nie, Virgin River is baie meer exciting as om Bybel te lees, maar as dit nou regtig moet, lees die 2020 vertaling. In alle erns, Virgin River gaan nogsteeds daar wees na my tyd met die Here. Ek het eintlik al agtergekom dat ek sommer niks eers met ‘n TV te doen wil hê na stilte tyd nie. 


Gebed is ook nie noodwendig net om te gaan sit en praat met God waar dit stil is nie. Jy kan worship of sommer in jou kar ook met God praat. So lank jy net heeltyd besig is om jou gedagtes te voed met die regte kos. Ek glo nie in nuwejaarsvoorneme nie, dis klomp nonsens, maar ek glo in verhouding. In 2025 sal ek tyd maak vir my verhouding met God.


Mag ek nooit weer die louwarm vrou wees wat ek in Ackermans was nie! Ek het haar sommer in Woodlands mall gelos in 2024. 


 
 
 

Comments


Commenting on this post isn't available anymore. Contact the site owner for more info.
bottom of page