top of page
Search

Mamma-wees hou jou nederig

  • Writer: Maryna Eksteen
    Maryna Eksteen
  • Oct 23
  • 3 min read

’n Brokkie waarheid vir gewone mammas met vol wasmandjies en nog voller harte. 

As daar één ding is wat mamma-wees vir my geleer het, is dit nederigheid. Nie die mooi Bybelwoord wat ons in teorie verstaan nie — die rou, egte soort nederigheid wat jou leer dat jy nie alles onder beheer het nie, al probeer jy tog so hard.


Mamma-wees vat jou van “ek het planne en ’n Pinterest-bord” na “Nee! Moenie dit in jou mond sit nie.” Ek verbeel myself ek is ‘n statige vrou wat haar lewe agter mekaar het en dan tref dit my; ek sit sonder ‘n bra op die vuil teëls in my slaapklere wat vlekke op het en probeer ‘n argument wen met ‘n klein mensie wat op my skree maar nie eers sy eie boude kan afvee nie.


Een oomblik lag jou kind so lekker dat jy sommer saam lag — en die volgende oomblik gooi hy alles op oor hy te veel koek geëet het by Ouma. Jy was dalk op pad om jouself te voel soos ’n ordentlike, georganiseerde mens… en toe staan jy daar met jou hande vol doeke, koeldrank en ’n huilende kleuter wat nie verstaan hoekom hy nie met die tuinvurk kan speel nie. Lewe met kinders hou jou nederig.


Nie die mooi soort nederig wat jy in ’n dagboek neerskryf nie, maar die tipe wat jou dwing om asem te haal, jou trots te sluk en te onthou: jy’s net mens en oranje is nie jou kleur nie.

Ek het al geleer dat daar iets heiligs is in die gewone. In die vou van wasgoed. In die maak van toebroodjies. In die middernag-opstaan vir koors en magies wat omgekrap is. Want dis juis daar — in daardie eenvoudige oomblikke — waar jy besef: Ek is nie die held in hierdie storie nie. God is.


“Hy lei die ootmoediges in wat reg is en Hy leer die ootmoediges Sy weg.” – Psalm 25:9

Mamma-wees laat jou besef hoe afhanklik jy van genade is — daagliks, dikwels, desperaat.


Kinders laat mens besef hoe vinnig dinge verander. Een oomblik is hulle kwaad oor ’n stukkie brood met ‘n korsie en die volgende oomblik klim daai klein mensie met vuil voetjies op jou skoot, lê sy koppie neer en raak aan die slaap. Buiten dat hulle jou nederig hou, herinner hulle jou aan God se grootheid. Ek kan my verkyk aan hoe mooi my kind is. Lang wimpers, die mooiste neusie en lippies, blonde haartjies en dan sug hy en ek besef net weer hoe goed God vir my is.


Elke gemors, elke moeg oggend, elke traan en elke lag is ’n herinnering dat jy nie perfek hoef te wees nie. Jy hoef net teenwoordig te wees — met ’n sagte hart en ’n buigsame gees.


So ja, mamma-wees hou jou nederig — want dit wys jou hoe min jy eintlik beheer, maar ook hoe groot God se genade is in die gewone dinge.


En wanneer jy weer jou kind se melkbeker volmaak terwyl jy jou koue koffie drink, onthou: dis nie tyd gemors nie. Dis heilige grond.

 

“Here, dankie dat U my leer om nederig te wees deur my kinders.


Leer my om U te sien in die chaos, die lag en selfs in die opgooi.


Gee my genade vir vandag – want ek weet, ek kan nie sonder U nie. Amen.”

 
 
 

Comments


Commenting on this post isn't available anymore. Contact the site owner for more info.
bottom of page