top of page
Search

Moenie net bid nie… Luister bietjie

  • Writer: Maryna Eksteen
    Maryna Eksteen
  • Jul 17
  • 2 min read

Daar is ’n jong seun in ons kerk wat so rukksie terug vir ons pastoor gesê het dat hy God kans gee om te praat na hy gebid het. En weet jy… ek was sommer stom geslaan. Word kinders deesdae so slim gebore?


Die pastoor sê mos, “imagine jy praat en praat met iemand en voor hulle kan antwoord of terug praat sê jy totsiens.”


Ons sê ons “praat met God”, maar eintlik bedoel ons: ek praat, God luister, amen. Dis soos om by iemand te kuier, alles van jouself te vertel, en dan op te staan en uit te loop nog voordat hulle kon antwoord. Ons sou nooit so met ’n mens maak nie. Maar met God – doen ons dit daagliks.


Dis vreemd, hoe ek God vertrou met my hele lewe, maar Hom nie tyd gee om in daardie lewe te praat nie.


Ek bid. Ek vra. Ek huil. Ek dank. Maar dan… hardloop ek aan. Terug na die geraas. Die WhatsApp-boodskappe. Die kinders. Die bekommernisse. En ek dink nie eers daaraan dat God dalk wou antwoord nie.


Dis vir my soms moeilik. Wanneer ek dan wil stil raak, dwaal my gedagtes. Ek dink aan die melk wat op is, die gesprek wat ek moet hê, die e-pos wat ek nog nie gestuur het nie. En voor ek my kan kry, is ek alweer êrens anders in my kop. Ek probeer hoor, maar ek hoor nie. En ek dink: “Ek faal.”


Maar ek leer stadig, die stilte kan soms bietjie hard raak. En God is nie kwaad vir my omdat ek moet leer luister nie. Hy’s geduldig. Hy wag.


Psalm 46:10 sê: “Wees stil en weet: Ek is God.”


Nie: “Doen meer.” Nie: “Praat harder.” Nie: “Bid langer.” Net: Wees stil.

Dis in daardie stilte waar God Sy met ons praat. Nie altyd in woorde nie. Soms in vrede. Soms in ’n gedagte wat jy weet nie van jou af kom nie. Soms net ’n wete: Ek is nie alleen nie.


Ek dink daardie jong seun weet iets wat ons grootmense vergeet het: God praat. En Hy wíl praat. Maar Hy dwing Homself nie op jou af nie nie. Hy wag vir stilte. Hy wag vir ruimte. En Hy wag vir jou om te luister.


So dalk moet jy ook, soos ek, leer om in jou gebede te sê: “Amen… en nou luister ek.” Selfs net vir vyf minute. Al dwaal jou gedagtes. Al voel dit vreemd. Al hoor jy niks nie. Dis ok. Dit gaan nie oor wat jy hoor nie—dit gaan oor dat jy leer wag. Stilte is ’n geestelike spier wat ons moet oefen. En God eer daardie poging.


Jy is nie besig om dit “verkeerd” te doen nie. Jy’s besig om te leer luister. En elke keer wat jy kies om stil te wees, gee jy vir God ’n geleentheid om jou hart aan te raak.


So môreoggend, of vanaand, of nou-nou—wanneer jy weer bid, sê ook vir God:“Ek’s nou stil, Here. Ek’s hier en ek luister.”


En dan wag jy. Net vir ’n oomblik.


Hy sal nie stil bly nie. Hy praat met hulle wat stil genoeg is om te hoor.

 
 
 

Comments


Commenting on this post isn't available anymore. Contact the site owner for more info.
bottom of page