top of page
Search

Nuwejaarsvoornemens: Die groot "ek gaan dit hierdie jaar maak!" mite

  • Writer: Maryna Eksteen
    Maryna Eksteen
  • Jan 2
  • 3 min read

Hier kom dit weer, 1 Januarie. Die dag waar die gyms propvol is, die bladsye van jou nuwe dagboek nog onbesoedeld is, en jy besluit jy gaan hierdie jaar alles regkry. Ek weet hoe dit gaan! Jy staan ook seker soos ek voor die spieel en trek jou maag in, draai bietjie dwars en dink by jouself, die jaar is my jaar! Ek gaan 10kg verloor. Jy maak beloftes aan jouself – minder suiker, meer oefening, en 'n daaglikse Bybelstudie om 05:00 (ja, right).


Teen 15 Januarie, eet jy alweer sjokolade vir ontbyt en jou hardloopskoene het stof opgetel. Nuwejaarsvoornemens klink wonderlik, maar kom ons wees eerlik: hulle is niks meer as 'n leun wat ons vir onsself vertel nie. En weet jy wat? Dis okay.


Die probleem met nuwejaarsvoornemens is dat hulle gebou is op perfeksionisme, die idee van mooi wat die samelewing wil hê jy moet glo. Ons stel onrealistiese standaarde vir onsself, vergeet dat ons mense is (meeste met kinders), en dan voel ons skuldig as ons nie elke dag soos 'n voëltjie geëet het nie. Ek gaan nou nie eers jok nie, as my maag teen 10:00 grom en ek is nog op verlof gaan ek sonder twyfel gebruik maak van Checkers se Sixty60 of McDonalds se drive-thru. 


As vroue, het ons klaar ‘n vurk vol hooi – Jy is ‘n ma, vriendin, vrou, dogter, werknemer, en sommer nog baie meer. Moet asseblief nie die druk van 'n "self-opgelegde ideaal" by hierdie lys voeg nie. God sê vir ons in 2 Korintiërs 12:9, “My genade is vir jou genoeg. My krag kom juis tot volle werking wanneer jy swak is.”


Onthou, God vra nie dat jy perfek moet wees nie. Hy vra net dat jy jou hart vir Hom sal gee.


In plaas van die gewone voornemens soos "Ek gaan 10 kg verloor" of "Ek gaan elke aand lees", hoekom nie fokus op wat regtig saak maak nie?


Maak eerder tyd vir stilte en refleksie in God se teenwoordigheid. Begin klein – dalk net 5 minute per dag waar jy eenvoudig luister. Geen app, geen boekie, net jy en God. Hy sal jou lei, selfs in die kleinste aspekte van jou lewe.


“Wees stil en weet dat Ek God is.” – Psalm 46:11


Maak vrede met jou skoonfamilie. Ag, die skoonfamilie. Ons is almal lief vir hulle... in beginsel. Maar soms kan dit voel asof jy 'n nuwejaarsvoorneme nodig het net om saam met hulle ‘n ete deur te sien. Dalk is hierdie die jaar om bietjie meer genade aan hulle te wys – of ten minste ’n tweede bord poeding te skep sonder om hulle opinies oor jou opvoedingstyl en gewig persoonlik op te neem. Onthou, liefde en geduld is sterker as enige voorneme.


“Wees geduldig met mekaar en vergewe mekaar as een iets teen 'n ander het.” – Kolossense 3:13


Laat gaan van skuldgevoelens want, jou waarde as vrou lê nie in hoeveel jy kan bereik nie. Dis nie in jou gewig, jou inkomste, of jou Instagram-feed nie. Jy is reeds genoeg, want God het jou as genoeg geskape.


“Ek loof U, want U het my op 'n wonderbaarlike manier geskep.” – Psalm 139:14


As jou enigste "voorneme" is om hierdie jaar jou menslikheid te embrace en jou vrede in God te vind, is jy op die regte pad.


Lag maar bietjie meer. Nuwejaarsvoornemens is lekker, maar hulle is nie die hoofdoel van jou lewe nie. Gee jouself genade, eet die koek, los die gym-uitrusting op die stoel, en geniet die klein oomblikke saam met die mense wat saak maak.


En as jy 15 Januarie besef jy het glad nie jou resolusies nagekom nie, onthou net: Niemand anders het nie! Iewers is nog ‘n vrou wat in haar gym klere sit en koek eet.


Johannes 14:27 is vir my so mooi. Dit sê, “Vrede laat Ek vir julle na; My vrede gee Ek vir julle. Ek gee nie soos die wêreld gee nie. Moet nie ontsteld of bang wees nie.”


So, haal diep asem, gryp nog 'n sny melktert, en begin die jaar met God aan jou kant. Resolusies mag misluk, maar Sy genade hou nooit op nie.

 
 
 

Comments


Commenting on this post isn't available anymore. Contact the site owner for more info.
bottom of page