top of page
Search

Party dae is my vrugte bietjie vrot

  • Writer: Maryna Eksteen
    Maryna Eksteen
  • May 8
  • 2 min read

Daar’s ’n vers in Galasiërs 5 wat ek al so baie gelees en gehoor het dat ek dit eintlik bietjie 'vergeet'. As mens ń ding mos 100 keer hoor wil jy amper net jou oë rol en verby "scroll". 

 

“Maar die vrug van die Gees is liefde, blydskap, vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid, nederigheid en selfbeheersing.”

 

Dis mooi, né? Maar laat ek jou sê — dit klink baie mooier in die Bybel as in my kombuis op ’n Saterdaggoggend.

 

Die foon lui. Die honde blaf. Juffrou Linky sing haar hart uit op die TV. My man vra waar sy gym handdoek is (die een wat letterlik op die kombuiskas voor hom lê). My kind gooi ’n tantrum oor hy in die arms wil wees (moenie eers waag om juffrou Linky af te sit nie) En ek? Ek’s op daardie grens tussen gebed en ń senuwee ineenstorting. 

 

Geduld? Selfbeheersing? Vriendelikheid? Ek sukkel net om nie te skree nie. 

 

Jy sien, die vrugte van die Gees is nie iets wat natuurlik uit my sondige hart kom nie. Dis bonatuurlik. Dit groei nie uit my vlees nie — dit groei uit gehoorsaamheid aan die Gees.

 

En ja, dis moeilik. Ek sukkel om te vergewe wanneer mense my seermaak — ek hou eerder vas as om los te laat. Ek sukkel om blydskap te hê wanneer ek uitgeput is. Ek sukkel om liefde te wys as ek seergemaak is. Ek sukkel met alles.

 

Maar Jesus sukkel nie met my nie.

 

Hy wag nie vir my om perfek te wees voordat Hy my help nie. Hy sê nie ek moet alles reg doen voordat ek die Gees se vrugte kan dra nie. Hy sê: “Bly in My.” (Johannes 15:4) Dis daar, in daardie plek van bly en luister en gehoorsaam wees, waar die vrugte begin groei — stadig, maar seker.

 

Gehoorsaamheid klink soms soos ’n swaar woord. Maar ek het geleer dis eintlik vryheid. Nie omdat ek skielik als reg doen nie, maar omdat ek nie meer self probeer alles reg doen nie. Ek gee oor. Ek sê: “Jesus, ek’s weer kort van geduld vandag en ek gaan dit verloor met die kind wat só skreeu of my my man wat tonnelvisie het, vul my asseblief.” En weet jy? Hy doen.

Nie altyd dadelik nie. Maar Hy’s getrou.

 

Selfs my vrugte is genade. En dit is die beste nuus vir ’n groot sondaar soos ek. 

 
 
 

Comments


Commenting on this post isn't available anymore. Contact the site owner for more info.
bottom of page