Rus is ’n godgegewe geskenk vir ons siel
- Maryna Eksteen

- Dec 12, 2024
- 2 min read
Die einde van die jaar is hier, en ons harte hunker na rus en vrede. Werkdag-uitputting, eindelose verpligtinge en die chaos van alledaagse lewe kan ‘n mens bietjie soos nog ‘n rat in die masjien laat voel. Die Woord van God herinner ons dat rus nie net ’n luuksheid is nie – dit is ’n noodsaaklikheid wat deur God ingestel is.
“Kom na My toe, almal wat vermoeid en oorlaai is, en Ek sal julle rus gee.” – Matteus 11:28
So, as jy op pad is na die strand, ’n boskamp, of dalk net jou tuiste vir ’n rustige vakansie, onthou dat hierdie tyd van afskakel heilig is.
Vanaf die skepping het God self ’n patroon van rus neergelê. Na ses dae van skeppingswerk, het Hy gerus. Nie omdat God moeg was nie, maar om vir ons ’n voorbeeld te stel. “Hy het op die sewende dag Sy werk waarmee Hy besig was, klaargemaak en gerus.” – Genesis 2:2
Rus is nie net om jou energie te herwin nie, dit is om jou siel te voed, jou hart te laat stil raak, en jou gedagtes op die regte dinge te rig.
Wanneer jy jou voete in die sand indruk of die vars lug inasem, besef jy dat rus ons hele wese herstel – liggaam, gees en verstand. Dit is in hierdie oomblikke dat ons weer begin luister na God se stem en ons prioriteite herwaardeer. God sê ook vir ons, “Wees stil en weet dat Ek God is.” – Psalm 46:10
’n Stil hart is ’n dankbare hart. Rus help ons om terug te kyk op ons jaar en die groter prentjie raak te sien.
Moenie net op rus vir jou liggaam fokus nie, fokus op rus vir jou gees ook. Neem tyd om in God se Woord te wandel. Dalk is dit tyd vir ’n lekker geestelike boek wat jy nog altyd wou lees of ’n nuwe Bybelstudie.
Of jy nou rus saam jou gesin vind of onder die skadu van ’n boom, weet dat hierdie tyd ’n geskenk is. God het jou gemaak om soms stil te staan en net te wees. Hierdie is nie luiheid nie – dit is gehoorsaamheid aan jou Skepper.
So, berê die to-do lys vir eers weg. Lag saam met jou kinders, drink die koffie stadig, en asem diep in. Rus, sodat jy sterker en meer vervuld terugkeer kan keer na die nuwe jaar toe.
“In vrede lê ek neer en slaap; U alleen, Here, laat my veilig woon.” – Psalm 4:9
Mag hierdie tyd van afskakel ’n tyd van herlewing wees vir jou siel. Rus goed, want jy verdien dit!




Comments