top of page
Search

Sak en As – soms moet jy God in sak en as ontmoet

  • Writer: Maryna Eksteen
    Maryna Eksteen
  • Jul 3
  • 2 min read

Ek is moeg.


Nie net “ek-het-deurnag-gewerk” moeg nie, maar daardie moeg-in-my-siel moeg. Daardie moeg waar jy in die oggend wakker word en jou eerste gedagte is: “Ek weet nie of ek vandag weer kan baklei nie.” Ek is moeg om te probeer in my huwelik. Moeg vir die lewe se uitdagings. Moeg vir die maskers wat ek moet dra om te wys “ek het dit alles onder beheer.”


Ek voel soos ’n vrou in sak en as.


Maar weet jy wat? Dis nie ’n swak plek nie. Dis ’n heilige plek.


In Bybelse tye het mense, wanneer hulle hartseer, berou of moedeloos was, hulle klere geskeur en in sak en as gaan sit. Letterlik. Sak – growwe klere. As – die oorblyfsels van iets wat verbrand het. Dis ’n simbool van totale oorgawe. “Ek’s klaar. Ek het niks meer oor nie. Hier’s ek, Here. Net stof.”


En dit is juis daar – in die as, nie op die berg nie – waar God die beste werk doen.


Jesaja 61:3 sê:“...om vir die wat treur in Sion te gee – ’n tulband in plaas van as, vreugdeolie in plaas van rouklere, loflied in plaas van ’n verslae gees...”


Hy gee jou ’n kroon – waar jy as gehad het.

Hy gee vreugde vir jou – waar jy net seer gehad het.

Hy sing oor jou – waar jy stil geword het.


Ons dink soms ons moet eers regkom voordat ons na God toe kan kom. Eers mooi aantrek. Eers bietjie herstel. Maar die waarheid is: God kom sit by jou in die as. Hy wag nie vir jou op die berg nie. Hy klim af tot in die gat waar jy sit. Hy vat jou hand. Hy droog jou trane op.


Wanneer jou huwelik op die rotse is en jy nie meer weet hoe om respek te wys aan ’n man wat nie eens sien dat jy lewe nie…Wanneer jou werk jou eerder leeg as lewendig laat voel…Wanneer jy sit en jy voel soos net ’n hoop gebrande drome en stukkende beloftes…


En dit is juis daardie as wat Hy gebruik om iets nuuts te vorm. ’n Kunswerk. ’n Getuienis. ’n Olie van vreugde. Hy mors nie seer nie. Hy gebruik dit. Elke traan, elke sug, elke “ek-kan-nie-meer-nie” word deur Sy hand versamel.


So as jy vandag net wil gaan sit—doen dit. Gaan sit. Huil. Moenie skaam wees vir jou swakhede nie. Maar weet dit: Dis nie jou eindbestemming nie. Dis ’n heilige tussenstop. En as jy stil genoeg raak, sal jy hoor Hy’s daar. Nie met oordeel nie. Met genade. Met ’n nuwe plan, al kan jy dit nog nie sien nie.


God red vroue. Nie perfekte vroue nie. Nie sterk vroue nie. Gebroke vroue. Vroue in sak en as.


En Hy gaan  jou ook red.

 
 
 

Comments


Commenting on this post isn't available anymore. Contact the site owner for more info.
bottom of page