top of page
Search

Sal jy jou kind gee vir ’n sondaar?

  • Writer: Maryna Eksteen
    Maryna Eksteen
  • Jul 31
  • 3 min read

Ons hoor dit so gereeld, né? “God het Sy enigste Seun gegee sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie maar die ewige lewe sal hê.” Johannes 3:16.


Dis ’n vers wat ons al uit ons kop uit ken. ’n Vers wat op koffiebekers en muurplakkate verskyn. En dis mooi. Maar dit is ook skokkend. Want wanneer jy ’n mamma is, en jy vat net vir ’n oomblik daardie woorde in jou hart in… dan raak dit persoonlik. Dan ruk dit jou.


Want hoor mooi: God het Sy Seun gegee.


Nie vir goeie mense nie. Nie vir brave mense nie. Vir sondaars. Vir mense wat Hom vloek. Mense wat Hom verwerp. Mense wat weet wat reg is, en kies om verkeerd te doen. Mense soos ek. Mense soos jy.


Dink aan jou kind. Jou eie vlees en bloed. Sy sagte hare. Daardie arms wat jou so omvou. Daardie oë wat jou vertrou. En nou kom iemand – ’n moordenaar, ’n leuenaar, ’n verkragter, ’n verwoester van alles wat goed is – en sê:“Ek kan gered word. Maar jy moet jou kind gee om in my plek te sterf.”


Ek weet wat my antwoord sou wees: “Pfft, sorry tjom, sterkte. Jy is op jou eie. Ek bid vir jou”


En dalk bid ek nie eers regtig nie. Want kom ons wees eerlik – daardie sin het al ’n soort outomatiese Christelike klank geword. “Ek bid vir jou.” Maar die waarheid is: ek sal nie my kind gee nie. Nie vir my vyand nie. Nie vir iemand wat nie eers probeer om reg te leef nie. Ek sal nie eers my kind by my skoonma los vir 5 minute nie, wat nou nog hom offer sodat iemand anders kan lewe.


Maar God het en ek dink ook dis hoekom ons mense nooit soos God kan wees nie.


God het nie net Sy Seun gegee nie – Hy het Hom laat sterf. Op ’n kruis. Naak. Verneder. Geslaan. Bespot. Vir my. En vir jou.


En dit breek my. Want ek weet hoeveel ek myself soms net los laat dryf in ’n gemaklike geloof. Ek sê dankie. Ek bid vinnig. Ek lees ’n vers. En dan gaan ek aan. So asof daardie offer net ’n "klein ietsie" was. So asof God se hart nie gebreek het nie.

Maar dit het.


God het gekyk hoe Sy Seun roep: “My God, My God, waarom het U My verlaat?” En Hy het stil gebly. Nie omdat Hy nie kon red nie, maar omdat Hy gekies het om jou te red. Om my te red.


Dalk moet ons daardie vraag vandag vra: "Het God Sy eie hart vir niks gebreek?"


Leef ek so, dat Sy offer sin maak? Of leef ek gemaklik, oppervlakkig, halfhartig… terwyl die Seun van God vir my bloed gesweet het?


Ons praat van heiligmaking asof dit net ’n fancy kerkwoord is. Maar dis ernstig. Dis ’n antwoord op wat God gedoen het. Dis die manier hoe ek wys: “Ek verstaan iets van wat U my gekos het.”


Ons hoef nie perfekte Christene te wees nie – maar ons kan nie lui wees nie.Jesus het nie gekom vir ’n oppervlakkige geloof nie. Hy het nie gesterf sodat jy net “Christen” op Facebook kan sit nie. Hy het gesterf sodat jy nuut kan wees. Sodat jy kan lewe – en nie net bestaan nie.


So mamma, kind van God, vriendin – vat vandag net ’n oomblik.

Sit stil.

Kyk na jou kind.

Dink aan daardie offer.

En vra dan vir jouself: “Hoe leef ek, in reaksie op so ’n liefde?”

 
 
 

Comments


Commenting on this post isn't available anymore. Contact the site owner for more info.
bottom of page