Sit by die regte tafel
- Maryna Eksteen

- Dec 18, 2025
- 3 min read
Daar is iets besonders aan ’n tafel. ’n Tafel is nooit net hout/plastiek en pote nie—dit is ’n plek waar mense sit en stories deel, brood breek en vreedsaam is. Maar dit kan ook ’n plek wees waar jy óf tuis voel… óf skielik besef jy sit by die verkeerde tafel.
Ons is onlangs deur my skoonouers genooi na ’n ete by hulle kerk. Nou, ons is nie deel van die gemeente nie, en soos enige normale persoon sal verstaan, is dit maklik om half huiwerig te voel. Moet ons gaan? Sal dit ongemaklik wees? Maar toe besluit ons om te gaan—al is dit net dat my skoonouers my seuntjie kan sien en saam kan kuier.
En weet jy, ons is hartlik verwelkom. Ons sit toe by my skoonouers se tafel, gesels en geniet die atmosfeer. Ná ons opskep, kom sit ’n paar mense by die tafel. En toe gebeur dit… daai een sin wat soos ’n koue wind deur ’n warm kamer waai.
’n Man sê vir my skoonpa:“My skoonpa het altyd mense saam met hulle gesinne genooi, en dit het my so geïrriteer—vreemdes wat opdaag, vreet hulle dik en ry weer.”
En net daar sink my hart. Want dit is mos nou presies wat óns gedoen het… Opgedaag. Ons eet en later gaan ons ry. ’n Mens weet mos wanneer kommentaar nie oor “ander mense” gaan nie, maar oor jou.
My skoonma kom so ewe op vir ons en sê, “Maar hulle bly ver, ons verstaan.” en die man antwoord kortaf, “Dis nie ’n verskoning nie.”
Op daardie oomblik het ek net vir my man gesê: Kom ons ry. My lont is maar kort so hier aan die einde van die jaar en as ek nie welkom is by jou tafel nie ry ek eerder. Ek maak nie ‘n oorlas van myself waar ek nie welkom is nie.
Die Bybel is vol verhale van tafels—wie daar sit, wie genooi word, wie uitgesluit word, en wie Jesus self nader trek.
Jesus eet saam met tollenaars, sondaars, uitgeworpenes—die mense wat ander nie aan hul tafels wou hê nie. “En toe die Fariseërs dit sien, sê hulle vir sy dissipels: Waarom eet julle leermeester saam met tollenaars en sondaars?”- Matteus 9:11. Maar Jesus antwoord, “Ek het nie gekom om regverdiges te roep nie, maar sondaars.” - Matteus 9:13. Met ander woorde: My tafel is nie vir die perfekte mense nie. My tafel is vir diegene wat kom net soos hulle is.
In Lukas 7 word ’n sondige vrou veroordeel toe sy Jesus se voete salf. Maar Jesus sê vir die man wat haar kritiseer in Lukas 7:40, “Simon, ek het iets om vir jou te sê.” En Hy wys vir hom dat die een wat die meeste vergewe is, die meeste liefhet. Die regte tafel is ’n tafel van liefde—nie van oordeel nie.
Die Here se uitnodiging is altyd oop.
Een van my gunstelingverse: “Kyk, Ek staan by die deur en Ek klop… as iemand My stem hoor en die deur oopmaak, sal Ek ingaan na hom toe en saam met hom maaltyd hou.”— Openbaring 3:20
Jesus wag nie om jou te keur voordat Hy jou nooi nie.Hy klop.Hy nooi.Hy kom sit.
Selfs al voel mense jou uit, God doen dit nooit.
Dit laat my dink aan The Table van Chris Tomlin:
I will feast at the table of the Lord. I will feast at the table of the Lord. I won't hunger anymore, at His table. Come all you weary; come and find His yoke is easy; His burden light. He is able; He will restore, at the table of the Lord. There is peace at the table of the Lord. There is peace at the table of the Lord. I won’t worry anymore at His table.
Dit is belangrik om by die regte tafel te sit. Die tafel waar jy en jou kind welkom is. Die tafel waar jou hart skeef trek van ongemak nie. Die tafel waar niemand kommentaar maak nie. Die tafel waar jy nie moet verduidelik, verskoon of regverdig nie. Die tafel waar Jesus se hart weerspieël word. Ek besef ook in dit alles dat dat daai man ook welkom sal wees by Jesus se tafel al voel hy nie dat ons by sy tafel welkom was nie.
God se tafel is oop. En daar is altyd ’n plek met jóú naam op. Mag ons die volwassenheid hê om op te staan en weg te stap van tafels waar ons nie welkom is nie en die wysheid om te sit by die tafel waar Christus se liefde die gesprek lei.




Comments