Tyd saam familie: ’n kans om liefde, herinneringe en hoop te deel
- Maryna Eksteen

- Dec 19, 2024
- 2 min read
Die geur van kaneel en varsgebakte koekies hang in die lug. Kinders giggel terwyl hulle saam gesels of speel, en daar is gesellige oomblikke om elke tafel. Tyd saam geliefdes is ’n kosbare herinnering aan die waarde van die mense wat ons lewens vorm. Vir baie van ons is hierdie tyd van die jaar een van vreugde en dankbaarheid, maar vir ander bring dit ’n warboel van emosies – verlange, rou, en wanhoop.
Hierdie tyd is meer as net kuier om ‘n braaivleis vuur of oordadige etes. Dit is ’n geleentheid om stil te sit, diep asem te haal, en die wonder van familie en liefde te waardeer. Tyd saam geliefdes is een van die grootste geskenke wat ons kan ontvang. “Dra mekaar se laste en gee so uitvoering aan die wet van Christus.” – Galasiërs 6:2
Ons deel saam stories, herinneringe, en oomblikke wat ons menswees verryk. Trane van vreugde of verlies, die warmte van omgee, en die eenvoud van saamwees herinner ons aan wat werklik belangrik is.
Vir sommige mense bring hierdie tyd egter ’n leegte wat nie gevul kan word nie. Miskien het jy hierdie jaar ’n geliefde aan die dood afgestaan – ’n ouer, ’n kind, ’n vriend, of ’n lewensmaat. Om hierdie tyd van die jaar sonder hulle te beleef, is moeilik en soms oorweldigend. Tog is daar in die rou en stilte beloftes van troos. “Die Here is naby die wat gebroke is van hart, en Hy red die wat verslae is van gees.” – Psalm 34:19
Laat jouself toe om alles te voel – die hartseer, die vreugde, die stilte en die herinneringe. Bring hulde aan jou geliefdes deur iets te doen wat hulle sou waardeer het: steek ’n kers aan, deel stories oor hulle, en koester die oomblikke wat jul lewens gevul het met betekenis. Liefde verdwyn nooit regtig nie; dit leef voort in ons harte.
Tyd saam familie herinner ons daaraan dat ons nie alleen is nie. In vreugde en in pyn is daar altyd hoop en ’n diep wete dat ons geliefd is. Kom ons gebruik hierdie tyd om vir mekaar om te gee, om te luister, en om saggeaard te wees met onsself en ander. Vier die mense wat steeds saam met jou aan tafel sit. Elke oomblik is ’n geskenk.
Mag die laaste maand in die jaar vir jou en jou gesin lig bring, selfs in donker tye. Mag die herinneringe van geliefdes wat jy verloor het, vir jou vrede bring, en mag die nabyheid van familie en vriende jou hart vul met geluk.
“Ek gee aan julle my vrede. Dit is nie die soort vrede wat die wêreld gee nie. Moenie ontsteld wees nie, en moenie bang wees nie.” – Johannes 14:27




Comments