Vrou-wees in die vakansie – ‘n oorlewingsgids
- Maryna Eksteen

- Dec 26, 2024
- 3 min read
Dis weer daardie tyd van die jaar – die skool het gesluit en die kinders en hul maatjies hardloop die huis vol. Winkelsentrums is ‘n nagmerrie en skielik is jy die operasionele hoof van “operasie hou die kinders besig.” As jy ’n vrou is, weet jy presies waarvan ek praat. Jy’s die gasvrou, aktiwiteitsbeplanner, meesterkok, en vredemaker onder kinders wat soms voel asof hulle net baklei en raas. O ja, en jy moet dit alles met ’n glimlag doen.
Maar kom ons kyk bietjie met humor daarna, want soos Spreuke sê: “’n Vrolike hart bevorder gesondheid, maar ’n neerslagtige gees laat die kragte verdwyn.” – Spreuke 17:22
Hier is ’n lekker “oorlewingsgids” vir die vakansie:
1. Die groot aktiwiteite-drama
Dis ‘n kuns om kinders besig te hou. Om die regte aktiwiteite te reël, balanseer tussen kreatiwiteit en oorlewing. As jy daarin slaag om almal tevrede te hou, is jy basies die Nobelprys-wenner van ouerskap.
Maar moenie moedeloos raak nie. Onthou: Dit gaan nie oor hoe duur of indrukwekkend iets is nie – dit is die liefde waarmee jy dit doen wat tel. “En alles wat julle doen, doen dit uit liefde.” – 1 Korintiërs 16:14
As jou liefde hierdie jaar in die vorm van selfgemaakte aktiwiteite of eenvoudige verrassings vasgevang moet word, is dit ook reg. Kinders hou gelukkig van bak en brou.
2. Die perfekte vakansie-etes
As jy soos die meeste vroue is, het jy waarskynlik ’n spyskaart met allerlei planne vir ontbyt, middagete en aandete. Maar luister, niemand verwag regtig dat jy ’n MasterChef moet wees nie. Gooi ’n paar skyfies en kaas op ’n bord en noem dit “kindervriendelik.” Jy hoef nie oorboord te gaan nie – kinders eet goed soos tamatiesous op brood, moenie jou kop breek nie.
3. Die huis moet aanpasbaar wees
Wie het besluit dat die huis altyd perfek moet wees? ’n Huis vol kinders is nooit netjies nie, en dis eintlik deel van die vakansiepret. Sit hul tekeninge teen die muur en noem dit “moderne kuns.” Onthou, niemand gee regtig om as daar speelgoed in die sitkamer is nie en die mamma wat later die middag haar kind kom haal se huis lyk net soos joune, deurmekaar.
“Moenie besorg wees oor die lewe nie... Jou hemelse Vader weet wat jy nodig het.” – Matteus 6:25-32
’n Lewe vol lag en liefde beteken soveel meer as ’n skoon huis.
4. Hou humor lewendig
Die belangrikste wapen in jou vakansie-arsenaal is humor. Wanneer kinders die kombuis oorneem vir hul “wetenskap-projek” of besluit om ’n fort in die sitkamer te bou, onthou: Dit is deel van die vakansieherinneringe.
Lag oor die klein goedjies. As jy vergeet het om inkopies te doen, maak sommer ’n “iets-uit-niks” ete. As jy per ongeluk die poeding laat aanbrand, noem dit “karamelisering.”
5. Maak tyd vir jouself
Tussen al die chaos is dit belangrik om ook aan jouself aandag te gee. Gebruik hierdie tyd om te reflekteer oor wat jou gelukkig maak, en rus ’n bietjie uit. Jy is die hart van jou gesin, maar moenie vergeet dat jy ook net ’n mens is nie.
Jy doen meer as genoeg, en jou gesin waardeer jou – al sê hulle dit nie altyd nie. Maak tyd om te lag, pret te hê en die vreugde van hierdie vakansie saam jou geliefdes te geniet.




Comments