Wanneer verlies aan jou deur klop
- Maryna Eksteen

- Aug 27, 2024
- 3 min read
Die lewe is soms soos ń rollercoaster, vol op- en afdraandes, en soms tref verlies ons soos 'n koue wind wat ons voete onder ons uitslaan. Of dit nou die verlies van iemand wat ons liefhet is, 'n droom wat nie gebeur het nie, of net 'n moeilike tyd waarin alles bietjie deurmekaar voel – dit los ń leemte in ons harte. As vroue, met ons sagte harte, voel ons hierdie seer dalk selfs meer intens. Maar weet jy, selfs in die donkerste tye het God steeds 'n wonderlike plan vir jou lewe.
Wanneer jy deur verlies gaan, kan dit voel asof die wêreld om jou inmekaar val. Dis normaal om hartseer, kwaad of selfs skuldig te voel. Dis menslik. Maar onthou: dit is nie die einde van jou storie nie. God werk agter die skerms, selfs wanneer dit voel of alles stil en donker is. Hy het goeie dinge vir jou beplan, en jou storie is nog lank nie klaar geskryf nie.
Jeremia 29:11 sê: “Ek weet wat Ek vir julle beplan,” sê die Here. “Ek beplan voorspoed vir julle, nie teenspoed nie. Ek wil vir julle ‘n toekoms gee, ‘n verwagting!”
Hierdie woorde herinner ons dat, selfs al sien ons nie nou die lig nie, God steeds ‘n blink toekoms vir ons in gedagte het.
Almal hanteer verlies anders, maar daar is 'n paar dinge wat jy kan probeer om jou deur hierdie moeilike tyd te help.
1. Gee Jouself Kans om deur die seer te werk: Dis okay om hartseer te wees. Jy hoef nie sterk te probeer wees wanneer jy voel jou wêreld val uitmekaar nie. God verstaan jou seer. Hy is immers die een wat jou aanmekaar geweef het. Psalm 34:19 sê: “Die Here is naby die wat gebroke is van hart, Hy help die wat verslae is van gees.” Laat jouself toe om jou emosies te voel en neem dit na God toe.
2. Soek troos by God: God is die beste plek om troos te vind. Spandeer tyd in gebed, lees jou Bybel, en wees net stil in Sy teenwoordigheid. In Jesaja sê God: Ek, Ek is Hy wat julle troos” (Jesaja 51:12). Jy hoef nie alles op jou eie te dra nie; Hy wil jou help.
3. Maak jou hart oop: Jy is nie alleen nie. Deel jou hart en jou seer met mense wat omgee. Soms voel dit of niemand verstaan nie, maar daar is altyd iemand wat deur dieselfde of ń soortgelyke situasie gaan. Galasiërs 6:2 sê: "Dra mekaar se laste, en gee op dié manier uitvoering aan die wet van Christus."
4. Vertrou Op God se Plan: Ons verstaan nie altyd hoekom dinge gebeur soos dit doen nie, maar ons weet dat God ‘n plan het, selfs al lyk dit nie nou so nie. Jesaja 55:8-9 sê dat God se gedagtes en weë hoër is as ons s'n. Vertrou dat Hy jou in die regte rigting lei, selfs wanneer jy nie die pad kan sien nie.
5. Hou vas aan Hoop: Hou vas aan die hoop dat God jou deur hierdie tyd sal dra. Romeine 15:13 sê: "Mag die God van hoop julle vervul met alle vreugde en vrede omdat julle glo, sodat julle hoop al hoe sterker kan word deur die krag van die Heilige Gees.” Hoop is soos 'n lig wat jou deur die donker lei.
God gebruik soms ons seer om ons sterker en wyser te maak. Dit is dalk nie lekker nie, maar dit help ons om te groei. Jakobus 1:2-4 sê: "Ag dit louter vreugde, my broers en susters, wanneer julle in allerhande beproewings val, omdat julle weet dat die beproewing van julle geloof volharding bewerk.”
Al voel die pad nou onseker en moeilik, onthou dat daar lig aan die einde van die tonnel is. God se plan vir jou is goed, en Hy is elke tree van die pad saam met jou. Hou jou geloof sterk, bly hoopvol, en weet dat Hy jou sal deur die seer dra.
Een dag gaan jy terugkyk en sien hoe ver jy gekom het en hoe God jou deur hierdie moeilike tyd gedra het. Vertrou op Sy plan, en onthou: jy is waardevol en kosbaar in Sy oë.
Mag jy vrede vind te midde van die storm en met geloof en hoop voortbeweeg, wetende dat God jou nooit alleen sal los nie.




Comments