top of page
Search

Wees Lief Vir Mekaar

  • Writer: Maryna Eksteen
    Maryna Eksteen
  • Oct 17, 2024
  • 3 min read

Die lewe kan soms bietjie “te veel raak” – die spanning, die haat en die verdeeldheid onder mense. Maar as ons een ding kan leer uit die Bybel, is dit dat liefde die een ding is wat alles kan oorwin. Ons is geroep om mekaar lief te hê, nie net wanneer dit maklik is nie, maar juis wanneer dit moeilik raak.


Jesus het nie net van liefde gepraat nie, Hy het dit geleef, en dit is waar ons moet begin. In Johannes 13:34-35 sê Jesus: "Ek gee julle ’n nuwe gebod: Julle moet mekaar liefhê. Soos Ek julle liefgehad het, moet julle ook mekaar liefhê. Hieraan sal almal weet dat julle my dissipels is, as julle liefde onder mekaar het."


Hierdie vers is so eenvoudig, maar dit dra soveel krag. Liefde is nie net ’n opsie nie, dit is ’n opdrag van God. Dit is hoe ons mense rondom ons wys wie ons regtig dien.


Om lief te wees vir iemand is nie altyd iets wat natuurlik kom nie. Dit is ’n keuse wat ons elke dag moet maak. Paulus sê in 1 Korintiërs 13:4-7: "Die liefde is geduldig, die liefde is vriendelik, dit is nie afgunstig nie, dit is nie grootpraterig nie, dit is nie verwaand nie. Dit handel nie onwelvoeglik nie, soek nie sy eie belang nie, word nie verbitterd nie, hou nie boek van die kwaad nie. Dit is nie bly oor onreg nie, maar is bly saam met die waarheid. Dit bedek alles, glo alles, hoop alles, verdra alles."


Hierdie is nie die tipe liefde wat jy net in sprokies vind nie. Dis die soort liefde wat opoffering en toewyding vra. Dit vra van ons om vir ander te gee, selfs wanneer ons moeg is. Dit vra van ons om vir ander te bid, selfs wanneer ons kwaad is.


Om werklik lief te hê, beteken om meer as net vir jouself te leef. Dit beteken om na ander uit te reik, om ander se laste te dra, en om op te tree met genade. In Galasiërs 6:2 word ons aangemoedig: "Dra mekaar se laste en gee so uitvoering aan die wet van Christus."


Hierdie tipe liefde vra iets van ons – dit vra dat ons dieper kyk as net ons eie gemak en gemaklikheid. Om mekaar se laste te dra, beteken dat ons uit ons pad gaan om ander te help, dat ons mekaar opbou wanneer die lewe moeilik raak.


Ons kan nie liefde uit onsself voortbring nie – ons moet dit by God leer en ontvang. 1 Johannes 4:7-8 herinner ons: "Geliefdes, laat ons mekaar liefhê, want die liefde is uit God, en elkeen wat liefhet, is uit God gebore en ken God. Hy wat nie liefhet nie, het God nie geken nie, want God is liefde."


God is die bron van alle liefde. Wanneer ons Hom toelaat om deur ons te werk, leer ons hoe om onvoorwaardelik lief te hê, net soos Hy ons liefhet.


Liefde hoef nie groot en dramaties te wees nie. Dit is in die klein, alledaagse dinge waar liefde die meeste impak maak. ’n Bemoedigende woord, ’n gebed vir ’n vriend, of selfs ’n glimlag vir ’n vreemdeling – dit is die eenvoudige dade van liefde wat die wêreld om ons kan verander.


Soos Jesus gesê het in Lukas 6:31: "Behandel ander soos julle wil hê hulle moet julle behandel." Hierdie goue reël herinner ons dat liefde prakties is. Dit is nie net iets wat ons sê nie, dit is iets wat ons doen.


Ons is geroep om mekaar lief te hê – nie op die oppervlakkige manier wat die wêreld voorhou nie, maar met die diep, “selfless” liefde wat Jesus vir ons het. Liefde is die antwoord op baie van die probleme wat ons in die lewe in die gesig staar.


Mag ons elke dag kies om met liefde op te tree, om mekaar se laste te dra, en om altyd genade te betoon, soos Christus dit vir ons gedoen het.

 
 
 

Comments


Commenting on this post isn't available anymore. Contact the site owner for more info.
bottom of page