Wees ‘n lig in donker tye
- Maryna Eksteen

- Oct 31, 2024
- 2 min read
Ons is so baie keer besig met ons eie lewens dat ons partykeer vergeet om stil te staan en aan ander te dink. Ons weet nie altyd wat die persoon langs ons beleef nie – dalk dra hulle ‘n swaar las van hartseer of depressie wat hulle verbloem met ‘n glimlag. Daarom is dit so belangrik om mekaar met liefde te behandel. Almal van ons het een of ander innerlike konflik of stryd wat ons moet oorwin.
Depressie is ‘n stille geestestoestand wat baie mense affekteer. Dit is nie altyd maklik om te sien as iemand daarmee sukkel nie. Iemand kan lag en lyk asof hulle hul lewe se uitdagings heel goed onder beheer het, maar binne voel hulle leeg en verlore. Ek is soms geneig om vinnig ‘n gevolgtrekking te maak oor ‘n persoon bloot op wat hulle doen of sê. Terwyl ek hierdie mening stuk skryf kom wys die Here net weer vir my dat ons nie mense moet oordeel op wat ons sien nie, maar eerder moet lief wees vir mekaar. In 1 Korintiërs 13:7 staan daar: “Die liefde bedek alles, glo alles, hoop alles, verdra alles.” Hierdie vers leer ons dat liefde geduldig en insiggewend moet wees – liefde sien meer as wat op die oppervlak lê.
Ons weet nie watse laste mense dra nie. Miskien het die kollega wat altyd vriendelik voorkom, ‘n diep seer wat hulle elke dag probeer verwerk of die vrou wat in die verkeer sing en dans is besig om deur ‘n egskeiding te gaan. Jesus herinner ons in Matteus 11:28: "Kom na My toe, almal wat uitgeput en swaar belas is, en Ek sal julle rus gee.” Net soos Jesus vir ons rus gee, kan ons liefde en empatie tenoor mekaar wys, sonder om eers die volle konteks van iemand se hartseer te ken.
Deur mekaar met liefde te hanteer, maak ons die wêreld ‘n bietjie ligter. Dit beteken om iemand met ‘n glimlag te groet, ‘n hand van hulp uit te steek, die deur vir iemand oop te maak of selfs net vir iemand te luister. Johannes 13:34 sê: “Ek gee julle 'n nuwe gebod: Julle moet mekaar liefhê. Soos Ek julle liefgehad het, moet julle mekaar ook liefhê.” Hierdie tipe liefde vra van ons om aktief betrokke te wees in mense se lewens, selfs al is dit net in die klein gebare.
Ons is geroep om die wêreld ‘n beter plek te maak deur liefde. Wanneer ons kies om met liefde en empatie na mekaar te kyk, maak ons ‘n verskil, selfs in die lewens van mense wat ons dink “sterk” is. Galasiërs 6:2 sê: “Dra mekaar se laste en vervul so die wet van Christus.” Hierdie opdrag moedig ons aan om bewus te wees van ander se seer en te help waar ons kan.
Liefde is nie ‘n swakheid is nie, maar ‘n eerder ‘n mooi eienskap wat jou ook nader aan God bring. Dit gee ons die vermoë om lig te bring in die donkerste tye, selfs wanneer ons self nie weet watter uitdagings iemand anders in stilte dra nie.
Liefde genees. Liefde bou op. En dit is die sleutel om mekaar deur moeilike tye te help dra.




Comments